Benescke Janse van Rensburg

’n Paar aande gelede, terwyl ’n pa van Lincolnshire, Brittanje geslaap het, het sy 9-jarige dogter sy selfoon gevat en sy wagwoord geraai. Sy was in die kol. Hierna het sy begin om aanlyn aankope te doen. Eers twee dae later het die pa, ’n sweis-inspekteur van beroep, geskok agtergekom dat meer as £1000 (sowat R19 000) aan PayPal betaal is.

Die dogter se “aankope” het vlugte na Parys, hotelverblyf, ’n rit op die Disneyland Express-trein en ’n uitstappie op teen die Eiffeltoring ingesluit. Na ’n lang gesprek het PayPal eindelik die geld terugbetaal. In ’n onderhoud ná die insident het die pa en dogter styf langs mekaar op ’n bank gesit. Die pa het gesê hy dink nie sy dogter het die omvang van haar aksies verstaan nie. Sy het saamgestem en gesê dat sy nie eens weet waar Parys of die Eiffeltoring is nie!

Op aarde kan ons maklik ’n rat voor ons aardse pa se oë draai. Ons kan dit egter nie met ons Hemelse Vader doen nie. Hy sien alles en Hy ken ons harte. In Spreuk 5:21 lees ons: “'n Mens se lewe lê oop voor die Here, elke tree wat jy gee, sien Hy.”

Tog, al sien God die goeie én die slegte in ons lewens raak, is sy plan vir ons goeie dinge in ons lewens. In Psalm 139 lees ons dat Hy soveel gedagtes oor ons elkeen het as wat daar sand in die see is. Ook in Jakobus 1:17 lees ons: “Elke goeie gawe en elke volmaakte geskenk kom van Bo. Dit kom van die Vader wat die hemelligte geskep het, maar wat self nie soos hulle verander of verduister nie.” Omdat God nooit verander nie, kan ons daarom met vrymoedigheid vashou aan die belofte in Romeine 8:38-39: “ . . . geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie . . .”

Wat as ons, soos hierdie 9-jarige kind, iets doen wat teen God se wil is vir ons lewens? Ons almal was al daar. Sonde veroorsaak ’n skuldgevoel in ons harte. As ons nie dadelik iets daaraan doen nie, veroorsaak dit dat ons, net soos Adam en Eva in die Tuin van Eden, vir God probeer wegkruip. Dit veroorsaak ’n skeiding tussen ons en God en beroof ons van ons vrymoedigheid om te bid en sy teenwoordigheid op te soek. Dít is waar die vyand ons wil hou.

Die waarheid is egter dat God ’n genadige Pa is. Hy wil hê ons moet na Hom draai, weg van die sonde, sodat Hy ons kan vergewe. Hy wag met oop arms dat ons na Hom draai sodat Hy sy goeie en volmaakte geskenke wat Hy vir ons beplan aan ons kan gee. Kom ons gryp die kans aan om sy genade in ons lewens te beleef. Sterkte.

Vader God, baie dankie dat daar by U genade ’n tweede kans is. Help my asseblief om nie toe te laat dat enige skuldgevoel ’n skeidsmuur tussen my en U veroorsaak nie. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.