Deur Benescke Janse van Rensburg

’n Vloot van 31 goudgeel trokke, gevul met 1500 oulandsgras het eergister uit Delmas, Mpumalanga vertrek. Die eindbestemming van hierdie geskenk is die boere in die Wes-Kaap wat gebuk gaan onder wat gereken word as die ergste droogte in 100jaar.

In my gesprek met boer Francois Neuhoff van Delmas wat saam met sy pa, Jannie besluit het om die veevoer (ter waarde van ’n halfmiljoen rand) te skenk en ook Anton Smith van die Hendrik van Wyk vervoerdienste wat gratis hul 31 trokke voorsien het om die voer by die boere uit te kry, was hul motivering agter die aksie dieselfde: Hulle was gehoorsaam aan God se roepstem. Ook dat hulle vol verwagting is dat hierdie aksie hoop sal bring aan boere wat dit begin verloor.  

Francois het my vertel dat hulle in die verlede self die invloed van droogte op hul boerdery beleef het. Omdat hulle ’n geseënde jaar beleef het, wil hulle uit dankbaarheid iets teruggee. Is dit altyd gemaklik om gehoorsaam te wees? Verseker nie. Dit verg steeds dat jy soms jou gemaksone (en jou eie gerief) moet prysgee om hoop aan ander te bring. Is dit die moeite werd? Altyd.

Hierdie inisiatief het my aan die woorde in Spreuke 19:17 laat dink: Wie hom oor 'n arm mens ontferm, gee 'n lening aan die Here, en Hy sal hom ten volle vergoed.” Ook in Galasiërs 6:7 lees ons: “Wat 'n mens saai, dit sal hy ook oes.” En in Matteus 25:45 vertel Jesus ’n getuienis en eindig af met die volgende woorde: “Dit verseker Ek julle: Vir sover julle dit aan een van hierdie geringstes nie gedoen het nie, het julle dit aan My ook nie gedoen nie.”

Hoe gaan dit tans met jou? Het jy ’n goeie jaar beleef? Deel jy enigsins van jou seëninge met ander? Wanneer laas het jy jou oë en ore oopgehou vir die roepstem van die Heilige Gees om iemand in nood te help? Dit hoef nie eens net met geld te wees nie. Soms verander ’n bemoedigende woord of gebed op die regte tyd ’n lewe. Jou gehoorsaamheid aan God bring hoop. Dit word ’n fisiese manifestasie van sy liefde en goedheid vir ons as sy kinders.

Vandag kniel daar êrens op ’n plaas in hierdie droogtegeteisterde areas ’n boer voor God met ’n smeekgebed dat Hy die deurbraak sal gee. Net so kniel ’n enkelma of weduwee langs haar bed, smekend dat God kos sal voorsien vir haar kinders. En in een van die ouetehuise is daar dalk ’n bejaarde persoon wat vandag bid dat God sy of haar eensaamheid sal verlig. Het jou besigheid ’n goeie jaar beleef? Is daar oorgenoeg kos in jou kaste? En jy ekstra tyd om na iemand uit te reik? Wat gaan ons as gelowiges doen om God se goedheid en liefde aan die mense rondom ons te demonstreer? Sterkte.

Vader God, baie dankie dat ek kan weet dat u nooit sluimer en slaap nie. Help my om in my nood te onthou dat U van my weet. Help my asseblief ook vandag om my oë oop te hou om vir U ’n instrument te wees in iemand anders in nood se lewe. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

  • Sien video van die vloot trokke na die boere by www.benescke.co.za en ook op die sosiale media se Stories van hoop bladsy.
  • Opdrag vir die dag: Hou jou oë oop vandag vir iemand in nood – fisies of emosioneel. As die Heilige Gees jou lei om iets te doen (al maak dit nie sin nie), wees gehoorsaam. Dit kan iemand anders hoop gee in hul droogtetyd.
  • Terugvoer: Watter vrese het ’n houvas op jou? Waaroor wil jy hierdie maand lees? Laat my weet by This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.. Ek hoor graag van jou. Benescke