Deur Benescke Janse van Rensburg

Agtergrond: ’n Leser skryf vroeër in 'n e-pos aan my: “Benescke, my lewe is besig om uitmekaar te val omdat die man in my lewe ontrou aan my was. Ek is stukkend en huil myself aan die slaap. Gaan ek nou alleen oud word? In dié stadium sukkel ek om te bid en Bybel te lees. Bid asseblief saam met my om sodat ek kan loskom van die vyand se aanval. Dit voel of ek teen die grond vasgedruk word en nie met my lewe kan aangaan nie.”

Het jy al soos hierdie leser gevoel? As gelowiges is ons nie gevrywaar van slegte dinge wat ons pad mag kruis nie. Ons leef immers in ’n gebroke wêreld. Uitdagings en teleurstellings laat ons maklik voel asof ons knie-diep in die modder staan met geen hoop dat dit ooit sal beter gaan nie. Hoe meer ons skop en veg, hoe dieper sak ons in die donker modderpoel weg.

Die Psalmdigter het dit verstaan. In Psalm 40:2-4 lees ons: “Ek het gesmag na die hulp van die Here. Hy het na my toe afgebuig en my hulpgeroep gehoor. Hy het my uitgetrek uit die put van die dood, uit die slymerige modder, my op ’n rots laat staan en my weer op vaste grond laat loop. Hy het ’n nuwe lied in my mond gelê. . .” 

Wat ons kan weet, is dat God daar is om ons op te tel en te vertroos. In Psalm 34:19 lees ons: “Die Here is naby die gebrokenes, Hy help die moedeloses.” In Psalm 46:2 staan geskryf: “God is vir ons 'n toevlug en 'n beskerming; Hy was nog altyd bereid om te help in nood.” En inPsalm 145:18 lees ons: “Die HERE is naby almal wat Hom aanroep, almal wat Hom aanroep in waarheid.”

As gelowiges kan ons in enige teleurstelling of krisis weet dat daar hoop is. Jesus Christus het met sy Hemelvaart vir ons ’n geskenk beloof, die Heilige Gees. Die Heilige Gees is ons Trooster en Leidsman. Dit is ook Hy wat ons regop help wanneer ons kragteloos plat teen die grond lê sodat ons met nuwe oë na die lewe kan kyk.

Mag ons aanhou om in ons seer en moedeloosheid na God te roep, wetende dat Hy ons gebede hoor –al bid ons ook soms met ’n fluisterstem. Mag ons onthou dat as ons swak is, Hy sterk bly en as ons na Hom roep, Hy daar is om ons te help. Sterkte.

Vader God, baie dankie dat U alles van alles in my lewe weet – die goeie en die slegte. Help my asseblief om in elke seisoen van my lewe my oë op U te hou, met die wete dat U my kan deurdra. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

Terugvoer: Watter vrese het ’n houvas op jou? Waaroor wil jy hierdie maand lees? Laat my weet by This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.. Ek hoor graag van jou. Benescke