Benescke Janse van Rensburg

Twee videogrepe het my onlangs lekker laat lag. In een van die video’s stap ’n Chinese toergids vol selfvertroue met sy vlag in die hand op die East Taiheng glasbrug, net om die volgende oomblik vreesbevange op die grond rond te kruip. ’n Groep ingenieurs het op een plek langs die roete van 288meter op die glasbrug sensors geïnstalleer. Sodra ’n toeris op die glasbrug trap, lyk dit met spesiale effekte en klank asof die brug besig is om te kraak en te breek. Die reaksie van toeriste – en veral die spesifieke toergids – is kostelik (sien skakel na video onder).

In die tweede videogreep stap ’n toeris in die Spy Museum in Washington na ’n haaitenk. Terwyl hy gemaklik teen die tenk tik, verskyn ’n reusagtige haai asof dit teen die venster vasswem en die ruit laat kraak. Binne sekondes beland die vreesbevange toeris ’n meter of wat verder op sy boude op die grond. In beide gevalle het die uitstekende interaktiewe, virtuele beelde die mans geflous en groot skik op die lyf gejaag.


In ons lewens gebruik die vyand gereeld hierdie “illusie”-strategie om ons te laat vrees vir wat moontlik met ons kan gebeur. As ons nie die bekommernis en aanval van die vyand sien vir wat dit is nie, kan ons net soos die Chinese toergids of die toeris in die museum gou paniekbevange raak. Dit beroof ons van helder denke. Ook van ons geloof in God en vrede en vreugde in ons lewens.

In Psalm 91:1,2,4,5 herinner die Psalmdigter ons aan wie God is: “Hy wat by die Allerhoogste skuiling vind en die beskerming van die Almagtige geniet, hy sê vir die Here: ‘U is my toevlug en my veilige vesting, my God op wie ek vertrou’ . . . Hy beskut jou onder sy vleuels en is vir jou 'n veilige skuilplek. Sy trou beskerm jou aan alle kante. Jy hoef nie bang te wees vir gevaar in die nag of vir aanvalle oordag, vir pes wat in die donker toeslaan of vir siekte wat helder oordag verwoesting saai nie. Al val daar duisende langs jou, tienduisende by jou, vir jou sal niks tref nie.”

Watter vrees is daar in jou lewe wat ’n houvas op jou gekry het? Is jy bang dat iets met jou geliefdes sal gebeur? Dat jy ook soos ’n familielid met ’n gevreesde siekte gediagnoseer gaan word? Is jy bang dat jy alleen gaan oud word of dalk nie genoeg geld sal hê na jou aftrede nie? Lê jy reeds op die grond in angs soos die toergids en toeris of herken jy die illusie terwyl jy jouself herinner dat God in beheer bly?

Kom ons herinner onsself dat God ons onder sy vleuels beskut. Al val daar duisende langs ons, tienduisende by ons, niks sal ons tref nie. En indien iets sleg ons wel tref, kan ons weet dat God in beheer bly en in staat is om dít ook ten goede te laat meewerk. Hy regeer en bly in beheer. Sterkte.

Vader God, baie dankie dat U beloof om my te beskerm. Help my asseblief om my oë op U te hou al voel dit soms of alles uitmekaar val. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

  • Sien video van die toergids en toeris by www.benescke.co.za of op die sosiale media, Fbook se bladsy, Stories van hoop.
  • Opdrag vir die dag: Vra jouself af wat die vrese in jou lewe is. Skryf dit neer en praat met God daaroor. Herinner jouself ook aan die woorde in Psalm 91:1,2,4,5.

Terugvoer: Deel gerus ook jou getuienis van God se deurbrake in jou lewe met my by This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.. Jy kan ook net saamgesels of terugvoer gee as jy wil. Dit is altyd lekker om van jou te hoor. Benescke