Benescke Janse van Rensburg

’n Boer van Garies, Gert Sarrisam en ’n predikant van Laingsburg, Mias Nortier. ’n Maand gelede was beide moedeloos, plat teen die grond. Vir boer Gert was dit moeilik om positief te bly terwyl sy plaas al kaler word en die vee al maerder in wat gereken word as die ergste droogte in 100 jaar. Vir Mias was dit moeilik om as herder van die gemeente die gemeenskap positief en hoopvol te hou terwyl die reën wegbly al is verskeie gebedsdae vir reën al gehou.

In ’n stap van geloof het boer Gert, twee weke gelede sy plaas agtergelos om saam met ’n toergroep Israel te besoek. By die klaagmuur in Israel het hy met sy hand teen die muur gaan staan en by God vir reën op sy plaas in Suid-Afrika gepleit. Net so het Mias twee weke gelede saam met die Riders for Unity motorfietsspan wat Laingsburg besoek het in die kurkdroë Buffelsrivierbedding gaan bid. As teken van hul geloof, het hulle soos Josua en die Israeliete in Josua 4 ’n klipstapel in die rivierbedding gepak – heel bo-op is ’n klip met ’n groen kruis geplaas. Die klipstapel was ’n teken van hul geloof en vertroue in God. Dit was ’n verklaring.

Het God die gebede gehoor? Hy het. Met boer Gert se terugkeer na Garies Vrydag wou sy hart van dankbaarheid bars. Die wêreld was sopnat en op ’n foto op sosiale media staan hy met ’n reënmeter met 17mm water. Ook in Laingsburg het die sluise van die hemel oopgetrek en Woensdagmiddag het dit in 30minute sowat 30mm reënwater geval. Mias en sy vrou is reguit rivier toe. In ’n videogreep wat hy geneem het, sien ’n mens hoe die water in die kurkdroë rivierbedding aangestroom kom – reguit na die klipstapel wat hulle gepak het. Dan hoor ’n mens hoe hy op die agtergrond sê: “Dankie Here.” In daardie oomblik het hy geweet dat God hul gebede gehoor het.

In Psalm 13 lees ons hoe die Psalmdigter ook ’n droogtetyd in sy lewe beleef wanneer hy in vers 2-4 skryf: “Hoe lank gaan U my nog bly vergeet, Here? Vir altyd? Hoe lank gaan U nog van my af weg kyk? Hoe lank moet ek nog my eie planne maak en my dae met kommer deurbring?... Luister tog en antwoord my, Here my God! Gee my tog nuwe lewenskrag.” En dan in vers 6 herinner hy homself dat God nooit verander nie: “Ek hou vas aan u troue liefde, oor die uitkoms wat U gee, juig my hart. Ek wil sing tot eer van die Here, omdat Hy aan my goed gedoen het.”

In ons eie lewens ervaar ons ook soms daardie droogtetye. Ons bid vir genesing, ’n finansiële deurbraak, ’n baba, ’n werksgeleentheid of dalk ’n lewensmaat. As ons nie dadelik ’n deurbraak beleef nie, is ons ook geneig om te vra: “Here, hoe lank gaan U nog van my bly vergeet?”

Soms is dit die droogste, donkerste en moeilikste net voordat ons die deurbraak beleef. Dit is dan dat ons geloof die meeste getoets word. Gaan ons aanhou vertrou of dan moed opgee? Boer Gert en Mias het aanhou bid al het die antwoord weggebly. Op God se perfekte tyd het hul die antwoord beleef – jy sal ook! Sterkte.

Vader God, baie dankie vir U getroue liefde. Help my asseblief om my geloof en vertroue in U te plaas, wetend dat U tydsberekening altyd perfek is. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

  • Kyk na die foto van boer Gert by die klaagmuur en dan met die reënmeter vol water en ook van Mias in die droë rivierbedding by www.benescke.co.za of op die Stories van Hoop bladsy op Facebook.

Terugvoer: Watter vrese het ’n houvas op jou? Waaroor wil jy hierdie maand lees? Laat my weet by This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.. Ek hoor graag van jou. Benescke