TEMA DIE MAAND: VREESLOOS OMDAT HY LEEF

Deur: Benescke Janse van Rensburg

’n Potjie skaak, ’n boksgeveg, ’n tenniswedstryd en selfs ’n sokkerwedstryd. In enige van dié sportsoorte, is dit meestal die individu of span met die beste strategie wat as die wenners uit die stryd tree. Om só strategie saam te stel, hou opponente mekaar dop. Hul ontleed mekaar se spel en soek na swakpunte om uit te buit.

In ons lewens is dit dieselfde. Ons stryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die bose magte in die lug. Die vyand hou ons ook dop. Hy ontleed ons lewens en soek na areas waarop hy ons kan aanval. Hy het dit met Job gedoen. In Job 1 lees ons dat Job alles gehad het. ’n Mooi huis. ’n Klomp besittings. Sewe kinders. Hy het ook ’n wonderlike verhouding met God gehad. Satan wou dit stop, maar hy kon nie, want God het ’n beskermingsmuur reg rondom Job, sy familie en ook sy besittings geplaas (Job 1:10 – 1953-vertaling).

Job het egter een swak punt gehad: Vrees. Hy was bang dat iets sleg hom of sy geliefdes sou tref. Satan het dit gesien. Met die geleentheid om Job se geloof te toets, het hy Job geslaan waar dit hom die seerste sou maak. In Job 3:25 lees ons Job se woorde nadat hy alles verloor het: “Wat ek gevrees het, het oor my gekom; waarvoor ek bang was, het my getref.”

Waarvoor vrees jy vandag – en hoe hanteer ons dit? Praat ons heeltyd daaroor met almal om ons of neem ons dit na God toe? In Josua 1:9 praat God met ’n vreesbevange Joshua: “Wees sterk, wees vasberade. Moenie skrik nie, moenie bang wees nie, want Ek, die Here jou God, is by jou oral waar jy gaan.” Vandag sê Hy dieselfde vir jou ook. Hy ken ons vrese en Hy wil ons vrees met vreugde en vrede in ons lewens vervang. Sal jy Hom toelaat?

Kom ons onthou dat die vyand ons dophou en luister na ons woorde. Mag ons woorde eerder woorde van geloof as woorde van vrees wees. Kom ons onthou ook dat God steeds op die troon sit. Hy bly in beheer en net soos vir Job, kan Hy ook rondom jou en jou geliefdes ’n beskermingsmuur plaas. Hy bly immers dieselfde gister, vandag en tot in ewigheid. Sterkte. 

Vader God, baie dankie dat ek elke vrees in my hart na U kan bring. Lei my asseblief daagliks deur u Heilige Gees om met groter geloof vreesloos te leef. Ek bid dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

  • Opdrag vir die dag: Kies om doelbewus net met God oor jou vrese te praat. Skryf van die beloftes uit God se woord neer en lees en oordink dit elke keer as vrees dreig om jou te oorweldig.

Terugvoer: Watter vrese het ’n houvas op jou? Waaroor wil jy hierdie maand lees? Laat my weet by This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.. Ek hoor graag van jou. Benescke