Benescke Janse van Rensburg

Wou jy al ooit vinnig ’n foto neem net om te besef dat jou foon so vol is dat dit nie meer foto’s wil neem nie? Dit is frustrerend. Sodra jy dan genoeg ou foto’s afgevee het om nuwes te neem, is die oomblik waarin jou kind of kleinkind of selfs jou troeteldier iets oulik gedoen het gewoonlik verby! Wat ’n mens eintlik moet doen, is om op ’n gereëlde basis jou foto’s van jou foon af te laai om te verseker dat daar genoeg spasie sal wees volgende keer as jy ’n foto wil neem.

Ons lewens kan met hierdie selfoon vergelyk word. Sodra ’n bekommernis of vrees ’n houvas op ons kry, oorheers dit ons gedagtewêreld, laat ’n knop op ons maag en laat voel ons heeltyd of iets ons jaag. Omdat ons so vol van bekommernis en vrees is, is daar nie spasie vir die Heilige Gees en juis hierom sukkel ons soms om in hierdie seisoene God se stem te hoor.

Is dit nie dalk tyd vandag om “leeg” te word van vrese sodat die Heilige Gees ons met vrede kan vul nie? Hoe doen mens dit? In 1 Petrus 5:7 lees ons:  “Werp al julle bekommernisse op Hom, want Hy sorg vir julle.” Ook in Filippense 4:6-7 lees ons: Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend. En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus.”

Wanneer ons met God oor ons bekommernisse en vrese praat – of dit ’n vrees is dat jou familielede op die plaas iets kan oorkom, dat gewapende rowers by julle huis gaan inbreek, dat jy jou werk kan verloor, dat jou kinders iets kan oorkom, dat jou huweliksmaat ’n buite-egtelike verhouding gaan aanknoop of dat jy met ’n gevreesde siekte gediagnoseer sal word – weet dat Hy hoor en dat ons gebede vir Hom saak maak. Hy wil ons sorge oorvat en ons met sy Heilige Gees vul. Geen wonder dat ons in Handelinge 13:52 lees dat ons op ’n gereelde basis met die Heilige Gees gevul moet word nie.

Hoe lyk jou lewe vandag? Oorheers vrees jou gedagtes? Is daar ’n knop op jou maag en gevoel dat iets jou jaag aan jou binneste? Kom ons laai ons bekommernisse af by Hom in smeking en gebed en kom ons glo dat Hy vir ons sal sorg. Sterkte.

Vader God, baie dankie dat ek (noem jou vrees of bekommernis) by U voete kan kom neerlê. Maak my leeg van vrees en vul my met U Heilige Gees. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

  • Opdrag vir die dag: Werp jou bekommernisse op Hom. Praat met God oor wat jou pla en vra Hom om jou met rustigheid en vrede te vul.

Terugvoer: Watter vrese het ’n houvas op jou? Waaroor wil jy hierdie maand lees? Laat my weet by This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.. Ek hoor graag van jou. Benescke