Benescke Janse van Rensburg

Maandagoggend het ’n klomp Suid-Afrikaners  swart aangetrek. Sommige het dit gedoen met ’n hart gevul met vrees, haat en bitterheid. Ander omdat hulle wou standpunt inneem en sê: “Genoeg is genoeg.” En dan was daar diegene wat swart én wit gedra het om te kenne te gee dat hulle in hul rou, steeds hoop in Jesus Christus plaas.

Daagliks sterf 52 mense in ons land. Dié statistiek vul ons maklik met ’n verlammende vrees. Wanneer is dit jy of dalk ’n geliefde van jou? Wat sake vererger, is die wete dat van die mense wat gesterf het, wel vir beskerming gebid het. Dit laat ons maklik vra: Werk gebed dan enigsins?

Die oorgrote meerderheid van Maandag se protesaksies is met gebed begin. Dit het ’n knop in my keel gelaat om te sien hoe hordes mense hul knieë voor God gebuig het. God se woorde in 2 Kronieke 7:14 het dadelik na vore gekom: “(As) my volk, oor wie my Naam uitgeroep is, hulle verootmoedig en bid en my aangesig soek en hulle bekeer van hul verkeerde weë, dan sal Ék uit die hemel hoor en hulle sonde vergewe en hulle land genees.”

Het die gelowiges se gebede in ons land en selfs wêreldwyd God Maandag bereik? Verseker. Ons lees in Openbaring 8 dat die engele gelowiges se gebede bymekaarmaak en dat dit soos reukoffers voor God se troon opgaan. En die gevolg van ’n nasie wat hulle voor Hom verootmoedig? In 2 Kronieke 7:15 sê God: Nou sal my oë oop wees en my ore luister na die gebed van hierdie plek.”

Waarom aanbid ons God? Doen ons dit omdat ons doodbang is dat iets met ons of ’n geliefde van ons kan gebeur? Of aanbid ons Hom omdat ons Hom lief het en glo dat, al sou slegte goed ons paaie kruis, Hy ons nooit sal verlaat of in die steek sal laat nie? Dít is November-maand se tema, Vreesloos omdat Hy leef.

Kom ons ontdek weer saam wie hierdie God is wie ons aanbid. Hy wat beloof dat sy oë en ore oop is wanneer ons, onsself verootmoedig en wegdraai van ons verkeerde weë. En kom ons leef weer vreesloos – te midde van vrese wat dreig om ons te oorweldig – omdat ons weet dat Hy leef. Sterkte.

Vader God, dankie dat U almagtig is. Ek loof en prys U vir u grootheid. Help my asseblief om te midde van my eie vrese my oë op U te hou. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

  • Opdrag vir die dag: Kry ’n pen en papier. Skryf jou vrese neer en gesels met God daaroor. Vra Hom om jou rustigheid in jou hart te gee.

Terugvoer: Deel gerus ook jou getuienis van God se deurbrake in jou lewe met my by This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.. Jy kan ook net saamgesels of terugvoer gee as jy wil. Dit is altyd lekker om van jou te hoor. Benescke