Louise Gevers

Kom na Hom toe, die lewende steen, wat deur die mense afgekeur is, maar deur God vir die ereplek uitverkies is. Laat julle as lewende stene opbou tot 'n geestelike huis, om 'n heilige priesterdom te wees en geestelike offers te bring wat deur Jesus Christus vir God welgevallig is.  1 Petrus 2:4-5

Stel jou voor, die mooiste, asemrowendste steen wat jy al ooit gesien het. Dit is in alle opsig ontsagwekkend: dit is 'n lewende steen. Dit is die mees uitsonderlike steen in 'n huis wat van steen gebou is. Dit verhoog die prag van die huis en dit beskik oor 'n besondere kwaliteit om al die ander stene in daardie gebou in plek te hou. Nie net dit nie, maar al die ander stene is ook lewend, en as jy versigtig kyk sal jy sien dat deur die prag wat van die mooiste een – die hoeksteen – weerkaats, al die ander stene besig is om te verander in iets buitengewoon, iets wat al hoe meer van die mooiste steen se prag bevat.

Laat dit jou nie met 'n gevoel van ontsag en ekstase as jy besef dat dit hier oor Jesus en ons gaan nie?

Deur hierdie analogie gee Petrus 'n wonderlike illustrasie van geestelike potensiaal wat 'n werklikheid kan word wanneer ons na Jesus, die lewende Steen, kom. Nie net word ons soos Hy nie, maar ons word ook 'n integrale deel van sy werk wanneer Hy ons opbou as mense wat vir Hom uitverkies is en wat offervaardig leef om sy doel op aarde te volbring. (Romeine 12:1)

Dit is 'n fassinerende gedagte om te dink dat ons moet sterf om te leef. Alhoewel ons lewende wesens is, is ons dood as gevolg van die sonde totdat ons na Jesus toe kom, en Hy ons lewendig maak. Die eie ek moet egter sterf sodat ons kan leef om Hom te dien, maar wanneer ons hier op aarde sterf sal ons vir ewig saam met Hom in die hemel leef. Wanneer ons hier gesterf het, kan ons nie meer 'n verskil op aarde maak nie. Die tyd om lewend te word, is nou, sodat ons 'n verskil kan maak waar ons ook al geroep word om Hom te dien en vir solank ons tyd hier op aarde mag wees. Om God te dien, is 'n voorreg wat aan die lewendes behoort en nie aan die dooies nie.

Jesus het die Fariseërs "witgeverfde grafte"genoem "wat van buite mooi lyk maar daarbinne vol doodsbene en allerhande onsuiwerheid is…. van buite lyk julle vir mense vroom, maar van binne is julle vol huigelary en minagting van die wet.” (Matteus 23:27-28) Hy het hulle verder berispe: “Ellende wag vir julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, huigelaars! (v 29) Hoe tragies is dit om wel God se wet te ken, maar nie die gees daarvan uit te leef nie en dus nie 'n verskil maak nie.

'n Mens sien die verskil in Jesus se gelykenis van die getroue slaaf wat toe sy eienaar terugkom van sy reis, hy die slaaf se toegewydheid en die verskil wat hy in sy afwesigheid gemaak het, met die volgende woorde geprys het: ‘Mooi so! Jy is 'n goeie en getroue slaaf. Oor min was jy getrou, oor baie sal ek jou aanstel. Kom in en deel in my vreugde!’ (Matteus 25:21)

Wat hoop jy om eendag van die Here te hoor?

Gebed: Here, maak my een van u mooi stene in die geestelike huis. Help my om U te dien en 'n verskil vir u koninkryk te maak deur Jesus Christus, die lewende Steen. Amen