Louise Gevers

Soos pasgebore kindertjies smag na melk, moet julle smag na die suiwer geestelike melk, sodat julle daardeur kan opgroei en die saligheid verkry. Julle het immers ondervind dat die Here goed is.  1 Petrus 2:2-3

Watter land jy ook al vandaan kom, daar is heel waarskynlik 'n tradisionele dis wat mense met jou land assosieer. Baie mense hou daarvan om eksotiese disse te probeer, en sien soms met verwagting uit om sekere lande te besoek net om die oorspronklike kos te gaan ervaar. Die interessante is egter dat regoor die wêreld pasgebore babas hulle lewe met dieselfde kos begin – melk – en niemand sal dit oorweeg om vir hulle 'n sny pizza, 'n koeksister of 'n bord kerrie en rys te gee nie!

Die rede hiervoor is eenvoudig: om jou in staat te stel om te groei en floreer is dit belangrik dat jy dit wat jy nodig het op elke stadium van jou lewe kry. Alhoewel 'n pasgebore baba nog nie tande het nie en sy spysverteringstelsel nog onvolwasse is, weet hy wanneer hy honger is en dat hy baie kos nodig het, iets wat moedersmelk wonderbaarlik voorsien.

Reg van die begin is babas 'n wonderwerk: bevrugting is 'n wonderwerk; die kleintjie se ontwikkeling in die baarmoeder uit 'n klein selletjie; die ongelooflike oomblik van geboorte wanneer hy vir die eerste keer asemhaal, huil en op sy ma se bors geplaas word. Daar is baie wat hierdie wesentjie instinktief doen wat hom in staat stel om aan die lewe te bly en te floreer, tot die groot verligting van sy onervare ouers! Die baba sal gereeld wakker word en huil omdat hy honger is, en nie weer aan die slaap raak voordat daardie behoefte nie bevredig is nie; en deur die melk wat hy inkry sal jy voor jou oë kan sien hoe hy groei.

Petrus gebruik hierdie analogie om sy lesers aan te moedig om te groei. Hulle het eerstehands die goedheid van die Here en die wonder van weergeboorte ervaar. Hy wil nou verseker dat hulle die regte beginsels in plek het sodat hulle in hierdie ervaring kan groei en in hulle geloof en verlossing kan floreer. "Sorg daarenteen dat julle steeds toeneem in die genade en kennis van ons Here en Verlosser, Jesus Christus." (2 Petrus 3:18) Hy wil dat hulle smag – verlang na – die regte kos op die regte tyd, soos moedersmelk wat die gesondste bestandele het en altyd die regte temperatuur is. Net soos 'n baba moet hulle ook gereeld gevoed word – een keer 'n week sal rampspoedig wees want die baba sal van honger omkom en doodgaan!

"Luister aandagtig na My, sodat julle kan eet wat goed is en versadig kan word met die beste wat daar is." (Jesaja 55:2b)

Hoekom smag na iets wat nie geskik is vir jou en jou nie sal bevredig nie, maar jou stelselmatig sal verswak en jou sal laat sterf?

Gebed: Vader dankie vir die volmaakte voedsel van u Woord waarmee U ons daagliks voed. Help my om dinge in my lewe raak te sien wat u Woord probeer vervang en my gees wil verswak. Help my om daarmee op te hou. Amen