Louise Gevers

Hou dan op … met alle bedrog, huigelary, jaloesie en kwaadpratery. 1 Petrus 2:1

God se standaard vir sy kinders in alle situasies en te alle tye is liefde. Hoekom sal iemand sy rug daarop draai? Miskien as gevolg van eiegeregtigheid wat tot huigelary aanleiding gee?

Indien jy al ooit die slagoffer van kwaadpratery, jaloesie, huigelary of bedrog was, sal jy weet dat liefde nie saam met sonde kan bestaan nie. In die teks sê Petrus aan sy lesers om die sonde wat God reeds in die Tien Gebooie verbied het, uit hulle lewens te verwyder.

Dink aan die vyandigheid teenoor die vrou wat owerspel gepleeg het: twee mense wat betrap is dat hulle hulle eggenotes bedrieg het. 'n Groep godsdienstige mense bring die een oortreder na Jesus om te veroordeel, maar hulle het haar reeds veroordeel en wil haar stenig. Hulle stel egter nie in die ander party belang nie (miskien sal hulle hom later beskinder?) Jesus ontbloot egter hulle huigelary toe hy die strik wat hulle vir Hom gestel het om Hom te toets omdraai deur vir hulle te sê dat die een wat sonder sonde is, eerste 'n klip op haar moet gooi. Hoe sou ons gevaar het?

Ons almal sondig op verskillende vlakke en sal ook maar soos hulle moet wegloop as Hy ons daarmee konfronteer. Maar om van bedrog en huigelary in ons lewens ontslae te raak is moeilik want die wêreld word regeer deur "die vader van die leuen". (Johannes 8:44) en ons kern is 'n "hart [wat] bedriegliker [is] as enigiets anders, hy is ongeneeslik;" (Jeremia 17:9) Maar wanneer ons die vyand en die probleem herken, kan ons dit beveg. Dit is 'n positiewe stap in ons groei en kan ons versterk om standpunt teen die duiwel in te neem! En ons het die onderskraging van die Heilige Gees wat ons "vrygemaak [het] van die wet van sonde en dood." (Romeine 8:2)

Indien ons 'n verskil wil maak, moet ons volkome eerlik wees met onsself om hierdie probleem aan te spreek. Dikwels voldoen ons nie eers aan ons eie standaarde nie. Sedert die eerste leuen worstel die mens met oneerlikheid omdat ons bang is vir straf, of as gevolg van trots of om iemand anders te beskerm. Ons moet onsself egter losmaak van die sonde en nie huigelaars wees wat dink dat ons niks verkeerd kan doen nie, maar ander mense veroordeel nie.

Jesus bevry ons van al ons sonde. Ons verantwoordelikheid is om uit die versoeking te bly, selfs al kom dit deur gewone dinge wat op die oog af skadeloos blyk te wees, byvoorbeeld advertensies, televisie, sosiale media, ensovoorts. Ken jouself en jou swakhede.

In Spreuke 12:22 lees ons: "Die Here het 'n afsku van leuenaars; Hy hou van betroubare mense." Laat ons Hom eer en saam met Dawid bid: "Skep vir my 'n rein hart, o God, vernuwe my gees en maak my standvastig." (Psalm 51:12)

Gebed: Vader, bevry my van alle bedrog, huigelary, jaloesie en kwaadpratery en skenk aan my die vreugde en vryheid van u vergifnis.  Amen