Louise Gevers

Hou dan op met elke vorm van kwaad, met alle bedrog, huigelary, jaloesie en kwaadpratery.1 Petrus 2:1

Hoe vaar jy? Wat gaan jy oor jouself uitvind as jy elke dag in 'n notaboekie jou gedagtes, woorde en aksies wat kwaadwillig, bedrieglik, skynheilig, jaloers of lasterlik is, neerskryf?

Petrus begin met kwaadwilligheid, die teenoorgestelde van liefde. Dit is die kwaad wat mense in hulle harte teenoor ander koester, wat dikwels daartoe lei dat hulle kwaad aangedoen word. Wanneer ons kwade gedagtes teenoor iemand koester, gee ons nie aan hulle die voordeel van die twyfel nie, maar doen gemene, nydige of selfs bose dinge aan hulle. Alle kriminele persone pas in hierdie kategorie, maar so ook die persoon wat sonder aanleiding doelbewus iemand anders benadeel of iets onvriendelik of beledigend sê om iemand seer te maak en wat ander as minderwaardig beskou. Op persoonlike en selfs op nasionale vlak, is verskillende vorme van kwaad dikwels die oorsprong van verskillende tipes onregverdigheid en haat, onrus en oorlog.

Om die probleem aan te spreek moet op voetsoolvlak begin. In Spreuke lees ons: "Wie sy sonde wegsteek, moet niks goeds te wagte wees nie; wie sy sonde bely en daarvan afsien, sal genade ontvang." (Spreuke 28:13)

Wanneer ons eerlik en ontvanklik is vir die Heilige Gees, sal Hy ons help om die Woord te verstaan, die manier hoe ons sake beskou verander en ons geestelik en moreel heeltemal transformeer. Hy sal ons aktiwiteite uitwys wat teen sy beginsels is, asook die dinge wat afgode in ons lewens is. Om hiervan bevry te word, stel ons in staat om ons volkome aan Hom toe te wy en Hom met blydskap en vreugde te dien.

Jakobus sê: "Julle moet doen wat die woord sê en dit nie net aanhoor nie, anders bedrieg julle julleself." (Jakobus 1:22) Dit is hoe ons leer om sy wil te doen en geestelik te groei. Ons moet ons sondes bely en ons moedswilligheid laat staan. Wanneer Jesus vir ons sê dat ons ander moet behandel soos ons wil hê hulle moet ons behandel, moet ons die kwaad uit ons harte verban en vir altyd daarna in alle situasies ons motiewe aan hierdie stelling toets.

Kom ons neem hierdie ondubbelsinninge instruksies van Petrus ter harte. Die Here seën jou.

Gebed: Vader, verkeerde dinge kan baie subtiel wees. Wanneer ek eerlik en openhartig voor U verskyn, besef ek hoe ver ek nog van volmaaktheid af is en hoeveel ek U genade en hulp benodig om elke vorm van kwaad uit my hart te weer en dit met leifde te vervang. Help my asseblief. In Jesus se Naam bid ek dit. Amen