Louise Gevers

En hierdie woord is die evangelie wat aan julle verkondig is.  1 Petrus 1:25 (b)

Die langste psalm in die Bybel is die een wat enigiemand moet lees wat erns maak om meer oor die voordele van die Woord van God te leer. Dit word in feitlik elke vers van hierdie psalm genoem. Dié psalm bevat ook die geliefde teksvers: "U woord is die lamp wat my die weg wys, die lig op my pad." (Psalm 119:105) wat reeds ontelbare mense deur die eeue vertroos en leiding gegee het.

Ons is geseënd as die ewige woord van waarheid aan ons verkondig is. Dit bring lig in ons lewens en ons sal altyd die weg vind.

Paulus bevestig dat die woord lewe bring, en hy sê: "Die boodskap van Christus moet in sy volle rykdom in julle bly. Leer en onderrig mekaar met alle wysheid. Met dankbaarheid in julle harte moet julle psalms, lofgesange en ander geestelike liedere tot eer van God sing." (Kolossense 3:16)

Wat hy hier in wese sê, is dat ons dinamies met die Bybel moet omgaan en dit baie goed moet ken sodat dit ons en ons benadering tot elke deel van die lewe, kan beïnvloed. Selfs vir aanbidding moet liedere gebruik word wat in die Skrif gefundeer is sodat ons daardeur blydskap kan bring en op die wonderlike beloftes en waardes van God se lewende woord fokus.

Ons moet tyd met die Here spandeer en Hom deur die Skrif met ons laat praat. Wat is die punt om die volmaakte wysheid van God opgesluit te hou en op die rak te laat staan? God het ons gemaak en in sy wet aan ons al die beginsels gegee wat ons vir ons lewe benodig, in die goeie sowel as in die slegte tye. Sy beginsels bevat volmaakte wysheid, want Hy alleen weet alles – alle ander dinge is onvolmaak. Dit is tot ons nadeel as ons nie sy beginsels leer en dit in die praktyk uitleef nie. "Die woord van God is lewend en kragtig. Dit is skerper as enige swaard met twee snykante en dring deur selfs tot die skeiding van siel en gees en van gewrigte en murg. Dit beoordeel die bedoelings en gedagtes van die hart." (Hebreërs 4:12)

God se woord is betroubaar; daarom kan ons mekaar leer en onderrig want ons gebruik God se waardes, en die Heilige Gees sal die waarheid openbaar.

In 'n krisis, of wanneer ons twyfel, is die soek na antwoorde van naamlose bronne op die Internet, of om na raadgewers, familie of vriende te hardloop vir raad nog voordat jy die Woord van God geraadpleeg het, soos om jouself in die voet te skiet. Ons stres en dit kompliseer ons lewens, ons verwaarloos die tyd wat ons met Hom moet spandeer en vind spoedig dat ons toelaat dat die leuens van die duiwel op 'n subtiele manier ons bewussyn deur verskillende media binnedring. En tog het ons die Bybel byderhand.

Laat jy die Woord van God toe om 'n verskil in jou lewe te maak?

Gebed: Here, leer my om u ewige woord in my hart te koester, en laat dit 'n verskil in elke deel van my lewe maak. Amen