Louise Gevers

Julle is immers weergebore, nie uit verganklike saad nie, maar uit onverganklike saad: …" 1 Petrus 1:23

Weergebore; 'n nuwe begin. Onverganklike saad; watter verstommende gedagte!

Nie almal vind hierdie begrip maklik om te verstaan nie. Nikodemus het byvoorbeeld vir Jesus gevra hoe 'n man vir 'n tweede keer in sy moeder se skoot kan kom (Johannes3:4). En hoeveel mense sê nie dat hulle graag 'n kans sou wou hê om hulle lewens oor te begin en dan nie dieselfde foute te maak nie?

Ware volgelinge van Christus is weergebore, nie in die fisiese sin nie, maar geestelik, en in hierdie nuwe begin word hulle lewens verander, soms op 'n dramatiese wyse. Hierdie skitterende nuwe lewe kom net omdat Jesus dit wat ontbreek voorsien – die lewende water van sy Heilige Gees. Hy sê: " … maar wie van die water gedrink het wat Ek hom sal gee, sal in alle ewigheid nooit dors kry nie. Nee, die water wat Ek hom sal gee, sal in hom 'n fontein wees met water wat opborrel en vir hom die ewige lewe gee.” (Johannes 4:14)

Dit handel alles oor water – dit moet lewende water wees! Ons word in hierdie wêreld gebore deur die verganklike saad van ons ouers, slegs vir 'n beperkte tydperk; maar dit is deur die onverganklike saad van Jesus Christus dat ons weer gebore word, vir die ewige lewe.

Van kindsbeen berei God ons voor om hierdie belangrike konsep te verstaan, soms deur leidrade in die natuur. Wie was nog nie verwonderd oor 'n welige plant wat uit 'n klein, droë saadjie groei nie, of oor die pragtige skoenlapper wat voortkom uit die lewensiklus van 'n ruspe? Wie van ons was nie al depressief wanneer ons sien hoe alles sonder water doodgaan nie?

En tog is God aan die werk, selfs in tye van droogte! Ek is verstom oor die gehardheid van my tuin in hierdie droogte wat ons tans ondervind. Ek het verlede jaar baie plantjies geplant en moes hartseer toekyk hoe hulle verdroog, en die gras het droog en bruin geword as gevolg van die tekort aan reën en die feit dat ons nie langer ons tuine mag natlei nie. Ek het selfs begin om plante te verwyder, toe ons wonderbaarlik 'n paar buie reën gekry het. En daar begin van die verdroogde plante skielik groen blaartjies uitstoot en die wat nie heeltemal verdor was nie het begin blom, sommige vir die eerste keer! Hoe wonderlik dat ons Skepper altyd vir ons hoop gee!

Hy wys ons dat dit wat Hy sien en doen op heeltemal 'n ander vlak is as wat ons dinge sien en doen. Ons sien die dooie struik, Hy sien die lewenspotensiaal wat 'n paar buie reën kan bring, Ons sien die dooie liggaam wat begrawe word – Hy sien die siel wat verander is in iets mooi vir die ewigheid!

Gebed: Liewe Vader, open my oë dat ek kan sien hoe groot U is! Vul my opnuut met u lewende water wat aan my die ewige lewe skenk.  Amen