Louise Gevers

Noudat julle julle in gehoorsaamheid aan die waarheid gereinig het om mekaar as broers ongeveins lief te hê, moet julle mekaar dan ook van harte en vurig liefhê.  1 Petrus 1:22

Om mekaar van harte en vurig lief te hê, is 'n opdrag wat betrekking het op elke ware volgeling van Jesus, ongeag ouderdom of waar jy woon. Waar ons ons ook al bevind, daar sal altyd omstandighede wees wat ons vermoë sal toets om soos Jesus van harte en vurig lief te hê. En alhoewel die grootste toets soms kom van diegene wat die naaste aan ons is, is hierdie opdrag ook 'n toets vir die opregtheid van ons geloof.

Ek het nog altyd sendelinge bewonder wat na onbekende plekke gaan om die evangelie te gaan verkondig aan mense wat nog nooit die naam "Jesus"gehoor het nie en wat nog nooit die vreugde geken het om die lewende woord, die Bybel, te besit nie. Sendelinge moet seker by tye ernstige geloofsuitdagings ondervind in moeilike omstandighede waar hulle ver van die huis af is, en om dan nog, terwyl hulle gewoond moet raak aan verskillende kulture en klimaatsomstandighede, steeds hulle beste vir Jesus te gee.

Jim en Elisabeth Elliot het mekaar tydens hulle kollegejare in Amerika ontmoet en toe vir vyf jaar as sendelinge in verskillende dele van Ecuador gewerk voordat hulle verloof geraak het, en later daar getroud is. Hulle werk was om die evangelie aan die wrede Auca stam te verkondig. In 'n poging om hierdie ongekerstende stam te evangeliseer, is Jim en vier ander sendelinge as gevolg van 'n misverstand vermoor deur die mense wat hulle wou bereik. Elisabeth, hulle baba van 10 maande en die ander sendelinge se vroue is agtergelaat.

Elisabeth en die ander vroue het hulle opregtheid bewys deur gehoorsaam te wees aan die woorde van Jesus: "Julle moet julle vyande liefhê, en julle moet bid vir dié wat vir julle vervolg." (Matteus 5:44) Hulle het besluit om by die stam wat hulle mans vermoor het, te bly. Na 'n paar jaar van onbaatsugtige diens, het hulle die mense wat hulle mans vermoor het, vir Christus gewen. Watter wonderlike daad van genade was dit nie!

Vir Corrie Ten Boom was dit "gehoorsaamheid aan die waarheid … om mekaar ongeveins lief te hê" wat dit vir haar moontlik gemaak het om die wag van Ravensbruck konsentrasiekamp waar sy en haar suster aangehou is, te kon vergewe en dit het haar vrygemaak om hom van harte en vurig lief te hê.  Lees gerus meer oor haar verhaal van vergifnis: http://www.familylifeeducation.org/gilliland/procgroup/CorrieTenBoom.htm

Hierdie vergifnis kom nie natuurlik nie; dit kom van God. Dit is slegs wanneer ons deur God self vergewe is en vrygemaak is van die sonde, dat ons ander kan vergewe en waarlik liefhê.

Gebed: Liefdevolle Vader, ons sien hoe wonderlik U werk wanneer ons u Woord gehoorsaam en hoe U hoop in 'n donker wêreld kan bring. Skyn u lig in my hart en verander my begrip sodat ek netsoos U van harte en vurig kan liefhê.  Amen