Louise Gevers

Deur Hom glo julle in God wat Hom uit die dood opgewek en aan Hom heerlikheid gegee het. Daarom is julle geloof en hoop op God gerig. 1 Petrus 1:21

Kan jy jou voorstel waar ons sonder Jesus Christus sou wees? Deur Hom glo ons in God – en Hy is ons geliefde, ons lig en die bron van alles wat goed is wat ons in die lewe ondervind! Daar was nog nooit in die geskiedenis 'n persoon wat enigsins naby Jesus Christus kon kom nie; belangrike persoonlikhede het gekom en gegaan, maar hulle belangrikheid en grootsheid kom nie naby die impak wat Jesus op die wêreld het nie. Hy word selfs hoog geag deur volgelinge van ander gelowe.

Om Jesus te volg, is dinamies en lewendig en geensins 'n "oorgeërfde sinlose bestaan nie". (1 Petrus 1:18) Inteendeel, is om Hom te volg, lewe deur sy dood en deur sy lewe, ewige en oorvloedige lewe. Hy is ons lewe en sy krag word selfs op 'n meer dinamiese manier ervaar as toe Hy fisies op aarde was, as gevolg van die wonderlike gawe van die Heilige Gees om verskeie situasies te beïnvloed en gelyktydig ver en wyd na mense uit te reik. Danksy Jesus is die Christendom nie 'n dooie godsdiens nie: dit is die enigste godsdiens wat die mens, deur 'n persoonlike, intieme verhouding en nie deur 'n onpersoonlike, meganiese roetine nie, na aan sy Skepper, die almagtige God van die heelal, bring.

Christus se offer vir ons aan die heilige God as "die Lam wat vlekloos en sonder liggaamsgebrek is" (1 Petrus 1:19) het die allergrootste waarde. Wat meer kan ons vra as dat God self ons so liefhet dat Hy Hom met ons lewens hier op aarde bemoei, as ook met waar ons die ewigheid gaan deurbring. Hy het ons so lief dat Hy sy vlekkelose lewe vir ons offer en deur sy kosbare bloed ons vrykoop uit die slawerny van die sonde sodat ons die ewige lewe kan hê. Geen ander geloof beskik oor 'n god wat homself vir sy volgelinge offer nie, om van die hele wêreld nie eers te praat nie. Wanneer 'n mens dit alles verstaan, kan jy die enorme impak van Jesus op hierdie wêreld waardeer. 

Jesus het drie jaar spandeer om sy dissipels te leer oor die koninkryk van God en van sy wonderlike plan om die wêreld te bereik. Dit het my en jou bereik.

Sal jy hierdie plan verder uitdra?

Gebed: Here Jesus, woorde alleen kan nie reg laat geskied aan hoe wonderlik U is nie! U gewillige gehoorsaamheid om u lewe vir hierdie wêreld op te offer, en om die krag van God deur u opstanding te bewys, vul my met wonder en dankbaarheid. Dankie dat danksy U ek in God kan glo, en dat my geloof en hoop vir ewig in Hom gevestig is.  Amen