Deur Benescke Janse van Rensburg

’n Baie bekende storie lui soos volg: 

Dit het verskriklik gereën in ’n spesifieke dorpie. Soos die vloedwater gestyg het, het reddingswerkers onder meer aan een spesifieke man se deur geklop om te vra of hulle hom kon help om sy huis te ontruim. Sy antwoord was: “Nee dankie, ek wag dat God my kom red.” 

Die vloedwater het aanhou styg. Die man was mettertyd genoodsaak om op sy dak te klim. ’n Man in ’n roeiboot het verby gekom en die man gevra of hy wil inklim dat hulle na veiligheid kon roei. Weer het die man gesê: “Nee dankie, ek wag dat God my kom red.” 

Gou moes die man klou aan sy huis se skoorsteen omdat alles onder water was. ’n Helikopter het bo hom kom hang en ’n tou afgegooi om hom na veiligheid te bring. Weer het die man geskree: “Nee dankie, ek wag dat God my kom red.” Hy het verdrink. In die Hemel wou die man van God weet waarom Hyhom dan nie gered het nie. God het geantwoord: “Ek hét probeer. Het ek dan nie die reddingswerkers na jou huis gestuur, toe die boot en toe die helikopter nie?” 

Ons vooropgestelde idees van hoe God veronderstel is om ons gebede te beantwoord veroorsaak soms dat ons sy antwoorde reg voor ons miskyk. 

Vandag wil ek ’n ander perspektief op bogenoemde storie plaas. In 2 Kronieke 16:9 lees ons: “Die Here het sy oë oral op die aarde sodat Hy dié kan help wat met hulle hele hart op Hom vertrou.” Ook in Spreuke 3:27 lees ons: “Moenie 'n weldaad weerhou van iemand aan wie dit toekom, terwyl dit in jou mag is om dit te bewys nie.”

As God oor die aarde kyk, iemand in nood raaksien en jou as sy instrument wil gebruik – om die boot of helikopter – om vir iemand anders hul antwoord op gebede te wees, is jy bereid? Sal jy jou gemaksone verlaat sodat iemand anders God se lig en hoop vandag kan raaksien? Is jy so gefokus op jou eie lewe dat jy nie eens meer die mense in jou omgewing of selfs in jou kantoor raaksien wat deur ’n moeilike tyd gaan nie? 

Op die vraag wat die belangrikste gebod is, het Jesus geantwoord: “Wees lief vir God. Wees lief vir mense.” Mag ons nooit nalaat om God te vra om ons deur sy Heilige Gees sensitief te maak om diegene in nood raak te sien en hulle te help waar ons kan – al beteken dit ook dat dit partykeer iets van ons eie gerief en gemak gaan kos. Ek is seker dit plaas ’n glimlag op God se gesig – en dit kan dalk iemand van ’n ewigheid sonder Hom red. Sterke. 

Vader God, baie dankie dat ek U kan aanbid as my Skepper en Heer. Help my asseblief om vandag bereid en beskikbaar te wees as U my as Uinstrument benodig. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen. 

• Opdrag: Wees goed vir ten minste een mens vandag – al is dit om vir iemand te bid wat jy weet deur ’n moeilike tyd gaan.

• Terugvoer: Gee gerus terugvoer of deel jou getuienis van God se deurbrake in jou by This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.. Ek hoor graag van jou. Benescke