Deur Benescke Janse van Rensburg

[Agtergrond: ’n Leser skryf vroeër die week: “Benescke, ek sit met ’n probleem: Alhoewel ek Jesus se lig in my alledaagse lewe wil skyn, voel dit of ek vêr te kort skiet. Deur die week luister ek na preke en praat gereeld met my kinders oor die Woord, so ek weet presies wat ek veronderstel is om te doen, maar steeds sukkel ek met my humeur en dissipline om stilte tyd te hou! Help asseblief!”]

Het jy ook al in jou lewe só gevoel? Dalk het jy besluit om vroeër in die oggende op te staan om tyd saam met God te spandeer of dalk ’n bepaalde “probleemarea” in jou lewe uit te skakel (’n liefde vir skinderpraatjies, ’n gevloek, leuens, om jouself te ooreet, jou humeur of dalk om konstant te kla). Aanvanklik gaan dit goed, maar dan verslaap jy ’n paar oggende in ’n ry of jy struikel en in ’n oomblik van swakheid “oortree” jy weereens. Dan, terwyl jy met daardie leë bak roomys op jou skoot sit, tref die skuldgevoel jou terwyl jy skaam voel om met God daaroor te praat!

Dít is waar die vyand ons wil hou. Skaam, gestroop van ons vrymoedigheid om met God te praat oor daardie “misstap”. Paulus het verstaan. In Romeine 7:15,24 skryf hy: “Ek begryp self nie wat ek doen nie, want wat ek wil doen, dit doen ek nie, maar wat ek haat, juis dit doen ek. . . Ek, ellendige mens! Wie sal my van hierdie doodsbestaan verlos?” Dan in vers 25 gee hy ons hoop: “Aan God die dank! Hy doen dit deur Jesus Christus ons Here. . .”

Solank ons op aarde is, gaan ons teen die sondige natuur binne ons moet veg. Dit hou ons afhanklik van God. In Romeine 3:23 lees ons immers: “Almal het gesondig, en het nie deel aan die heerlikheid van God nie, maar hulle word, sonder dat hulle dit verdien, op grond van sy genade vrygespreek vanweë die verlossing deur Jesus Christus.” God kan en wil ons vergewe omdat Jesus reeds die prys betaal het. Ons lees in 1 Johannes 1:9:  Maar as ons ons sondes bely – Hy is getrou en regverdig, Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid.”

Voel jy vêr van God omdat jy dink dat Hy jou nie meer sal aanvaar soos wat jy is nie? Dit is ’n leuen. As ons perfek was en nooit gesondig het nie, het Hy nooit nodig gehad om sy Seun, Jesus Christus te stuur om ons van ons sondes vry te koop nie. Soos ’n liefdevolle pa sy eie kinders vergewe wat oortree het, maar jammer is daaroor, só wil ons Hemelse Pa ons ook vergewe omdat Hy ons lief het. Hy begeer ’n verhouding met ons elkeen. Dit is immers waarom Hy ons geskep het. Kom ons hardloop nader na sy troon – Hy wag reeds vir ons. Sterkte.

Vader God, baie dankie dat U my lief het – met my goeie en slegte punte. Versterk my asseblief in my oomblikke van swakheid dat ek die regte keuses kan doen en vergewe my waar ek misstap. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.