Benescke Janse van Rensburg

Met die 16de herdenking van die 9/11 terrorisme-aanvalle Maandag in Amerika, is verskeie gedenkdienste ter nagedagtenis aan geliefdes wat in 2001 gesterf het gehou. Op Ground Zero, waar die Twin Towers eens gestaan het, is die name van die mense gelees wat daardie dag gesterf het met ’n klok wat op die agtergrond lui. Dit is tragies. Bykans 3000 mense het in die aanval gesterf.

Wat vir my jaarliks uitstaan wanneer dokumentêre programme van die 9/11-gebeure uitgesaai word, is die stories van hoop – mense wat op daardie verdoemende dag ’n gewisse dood vrygespring het deur onder meer hul vlug te verpas of verslaap het en daarom nie in die gebou was op die oomblik van die impak nie. Net gister deel een van ons luisteraars op ons radio-program met my dat sy broer daardie oggend ’n vergadering moes lei in die Twin Towers. Sy vrou het vroeër in kraam gegaan en hy moes sy afspraak kanselleer. Al sy kollegas wat daar was, het gesterf.

In ons eie lewens beleef ons van tyd tot tyd sulke oomblikke van aanvanklike teleurstelling wat eers later sin maak en verander in “dankbare oomblikke” omdat ons besef dat God ons van ’n fout of verkeerde besluit gered het. Ek ken mense wat ’n week voordat hulle Phuket toe sou vertrek het met vakansie teleurgesteld moes uitvind dat daar ’n fout met die bespreking was en dat dit gekanselleer is. Tien dae later het hulle egter geskok en verlig voor die televisie gesit en kyk hoe die hotel waarin hulle sou bly deur die 2004 tsunami verwoes word.

In Spreuke 16:9 lees ons: “’n Mens beplan sy pad, maar die Here bepaal hoe hy loop.” Ook in Psalm 139:14,16 staan geskryf: Ek wil U loof, want U het my op 'n wonderbaarlike wyse geskep. Wat U gedoen het, vervul my met verwondering. U het my al gesien toe ek nog ongebore was, al my lewensdae was in u boek opgeskrywe nog voordat ek gebore is.” Ook in Romeine 8:28 staan geskryf: “Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is.”

God hou die heelal – en ook ons elkeen se lewens in sy hande. Hy ken die toekoms en kan alles ten goede laat meewerk vir diegene wat Hom liefhet. Dus, in stede daarvan om kwaad te word as dinge nie uitwerk soos wat ons gehoop het nie, kan ons gerus begin om Hom te dank met die wete dat Hy in beheer van ons lewens bly. ’n Toe deur wat ons nie nou verstaan nie, kan dalk later die grootste geskenk wees wanneer ons die groter prentjie sien. Hy bly getrou. Sterkte.

Vader God, baie dankie dat U die toekoms ken. Help my asseblief om U te vertrou met my lewe en toekoms – veral as dinge in die korttermyn nie dadelik uitwerk soos wat ek gehoop het nie. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

  • Opdrag vir die dag: Is daar ’n oomblik gewees in jou lewe wat jy vandag op terugkyk en wat aanvanklik sleg was besef jy dat God vir jou ten goede meegewerk het?
  • Terugvoer: Deel gerus ook jou getuienis van God se deurbrake in jou lewe met my by This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.. Jy kan ook net saamgesels of terugvoer gee as jy wil. Dit is altyd lekker om van jou te hoor. Benescke