Benescke Janse van Rensburg

Siek bejaardes en gestremdes wat uit hulle sopnat huise gered word, ’n ma wat haar eie lewe verloor het om haar 3-jarige s’n te red en totale vreemdelinge wat hul lewens gewaag het om ander in nood s’n te red. Hierdie is enkele stories wat my diep geraak het terwyl ek oor die afgelope weke die nuusberigte van die verwoesting van Orkane Harvey en Irma in Amerika gelees het.

Buiten vir huise se dakke wat deur die 200km/h winde afgeruk is en strate wat in riviere verander het, het sommige mense al hul besittings verloor omdat vloedwaters deur hulle huise gespoel het. Keer op keer het ek besef hoe kragtig die natuur is en hoe magteloos ons soms daarteenoor staan.

In ons eie lewens ervaar ons ook met tye oomblikke waar ons kragteloos en selfs magteloos voel. Ons bid vir reën, maar dit bly weg. Ons bid dat ons huwelik herstel of ’n geliefde sy of haar verslawing oorkom, maar dit voel of dinge net erger raak. In hierdie tye is dit belangrik om onsself deurentyd te herinner dat God die heelal in sy hande vashou.

In Psalm 89: 7-10 lees ons: “Wie in die hemel kan met die Here vergelyk word? . . .  Here, almagtige God, wie is soos U? U krag is groot, Here, u trou is oral! U heers oor die onstuimige see: as sy golwe opstaan, laat U hulle bedaar.” In Psalm 107:28-29 staan geskryf: “Maar in hulle nood het hulle na die Here geroep om hulp, en Hy het hulle veilig uit hulle ellende gelei. Hy het die stormwind stilgemaak, en die golwe van die see het bedaar.” En in Nahum 1:7 lees ons: “Die Here is goed, Hy is 'n toevlug in tyd van nood, Hy sorg vir dié wat by Hom skuil.

Terwyl die storm op die See van Galilea gewoed het, het Jesus se dissipels angsbevange geword. Jesus het opgestaan en die storm beveel om te stop. Dit het stil geword. God kan dieselfde vandag in jou lewe doen. Al is Hy die Skepper van die heelal met oneindige krag en mag, ken Hy jou op jou naam en bly jy vir Hom oneindig belangrik. Kom ons kies om ons oë op Hom te hou en Hom ons skuilplek te midde van elke storm te maak. Hy sorg vir dié wat by Hom skuil. Sterkte.

Vader God, baie dankie dat U almagtig is en ook my lewe in U hande vashou. Help my asseblief om nie my oë van U af te hou as die dinge rondom my dreig om my te oorweldig nie. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

  • Opdrag vir die dag: Is daar tans ’n storm of orkaan wat in jou lewe woed? Lees weer die skrifgedeeltes hier bo terwyl jy jouself herinner dat Hy in beheer van jou lewe is – en die storm met een woord kan stilmaak.
  • Terugvoer: Deel gerus jou getuienis van God se deurbrake in jou lewe of gesels saam deur terugvoer te gee by This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.. Ek hoor graag van jou. Benescke