Benescke Janse van Rensburg

’n Paar weke nadat Olimpiese kampioen, Wayde van Niekerk sy goue medalje in die 400-meter in Rio gewen het, het hy in Bloemfontein ’n jeuggroep toegespreek. Sy toespraak was inspirerend en hy het hulle vertel dat hy al ’n klomp keer weens die druk en spanning voor ’n wedloop voor die versoeking was om te onttrek. Omdat hy dit egter nie gedoen het nie, het hy geleer om vrees waterpas in die oë te kyk. Hy het die ouers ook aangemoedig om hul kinders stelselmatig aan druksituasies bloot te stel omdat dit hulle vaardighede leer en ook in staat stel om druk beter te hanteer in hul lewens.

God doen dieselfde in ons lewens. Hy sal ons nooit eensklaps vir iets groots roep of ons grondgebied buitensporing vergroot as Hy nie vooraf seker gemaak het dat ons karakter sterk genoeg sal wees om die druk wat met die posisie gepaard gaan kan hanteer nie.

Ons sien dit in Abraham se lewe. God het Abraham gevra om weg te trek van alles wat bekend is na ’n vreemde land. Hierna moes hy en Sara vir jare lank wag vir hul beloofde kind, Isak. En net om alles te kroon moes Abraham vir Isak gaan offer. Omdat hy deurentyd gehoorsaam was, was sy erfporsie groot. Ook Josef moes ’n paar toetse in sy lewe slaag. In Potifar se huis het hy die toets geslaag om eerder weg te hardloop toe Potifar se vrou by hom aanlê. In die tronk het Josef positief gebly en geglo dat God in beheer van sy lewe was al het dit nie so gelyk of gevoel nie. Omdat hy die karaktertoets geslaag het, kon God hom in een dag van gevangene tot onderkoning van Egipte neem.

Soms staan daar reuse in ons lewens reg voor ons. Reuse in die vorm van finansiële druk, verhoudingsdruk, druk in die werkplek, uitdagings met ons kinders. Soms blaas hulle in ons nek wat ons lam van vrees laat. In hierdie tye moet ons onsself herinner dat God ons deur die dal van doodskaduwee sal neem.

In 1 Korintiërs 10:3 lees ons:God is getrou. Hy sal nie toelaat dat julle bo julle kragte versoek word nie; as die versoeking kom, sal Hy ook die uitkoms gee, sodat julle dit kan weerstaan.” Ook in Romeine 5:3-5 skryf Paulus: Ons verheug ons ook in die swaarkry, want ons weet: swaarkry kweek volharding, en volharding kweek egtheid van geloof, en egtheid van geloof kweek hoop; en dié hoop beskaam nie, want God het sy liefde in ons harte uitgestort deur die Heilige Gees wat Hy aan ons gegee het.”

Druksituasies vorm ons karakter. Dit help ons om onsself en ook God se karakter opnuut ontdek. Mag ons nooit vergeet dat Hy ons deurdra en versterk wanneer ons swak voel. En mag ons deurdruk soos Abraham en Josef al voel ons soos Wayde om op te gee. Só mag ons ook dalk vir God op ’n skouspelagtige manier in ons lewens beleef. Sterkte.

Vader God, baie dankie dat U my regtig lief het en dat my karakter vir U belangrik is. Help my asseblief om die karaktertoetse te deurstaan en te onthou dat U alles ten goede kan laat meewerk vir die wat U lief het. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

  • Opdrag vir die dag: Kyk vir ’n oomblik terug na jou moeilike seisoene in jou lewe. Hoe het dit jou karakter gevorm? Dank God daarvoor.
  • Terugvoer: Deel gerus ook jou getuienis van God se deurbrake in jou lewe met my by This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.. Jy kan ook net saamgesels of terugvoer gee as jy wil. Dit is altyd lekker om van jou te hoor. Benescke