Deur Benescke Janse van Rensburg

’n Paar weke gelede het ons by die radiostasie waar ek in die Kaapse Skiereiland betrokke is, ’n projek geloods waar ons ’n paar gesinne in finansiële nood met ’n groot pak kruideniersware gaan verras het. Luisteraars kon families vooraf nomineer wat hulle geweet het swaarkry. Ons het dan uit die nominasies vyf gesinne gekies.

Die oggend voordat ons vertrek het om die geskenkpakke te gaan afgee, het ek nuuskierig deur die sak gekyk om te sien watter produkte die winkel gekies het. Tussen al die kosprodukte, was daar een “vreemde” keuse, ’n enkele pakkie springmielies (popcorn). Vir my was dit vreemd omdat ek heel moontlik eerder nog ’n pak rys sou insit as ek moes besluit.

By ons aankoms by een van die gesinne was daar baie trane. Lisa, ’n enkelouer van ’n tienerseun, kon nie glo dat iemand die moeite gedoen het om haar te kies nie. Wat my van haar geïnspireer het, is hoe sy te midde van elke storm in haar lewe (en sommige dae wat daar amper niks in die huis was om te eet nie), steeds kies om God te aanbid en te prys omdat sy glo dat Hy hulle Voorsiener is (kyk gerus na die video onderaan).

Ná afloop van ons besoek, het ons hierdie boodskap van Lisa ontvang: “Gisteroggend staan ek in die winkel en is soooo lus vir gekoopte popcorn. Nooit regtig nie, maar gister. Toe ek sien dit kos R18, het ek dit teruggesit, want ek het besef dat dit ’n luxury is. Toe ek die kossak oopmaak, het ek amper op my rug geval: Heel bo in die sak lê ’n pakkie popcorn – presies die soort wat ek teruggesit het! Nou besef ek opnuut weer dat Vader nie net in ons behoeftes voorsien nie, maar soms selfs in ons kleinste begeertes!”

In Job 34:21 lees ons: “God sien alles wat ’n mens doen, Hy sien elke tree wat ’n mens gee.” In Jesaja 43:1 praat God self en sê: “Moenie bang wees nie, Ek verlos jou, Ek het jou op jou naam geroep, jy is Myne.” In Jesaja 49:16 sê Hy: “Ek het jou naam in my handpalms gegraveer. . .” Ook in Lukas 12:7 lees ons: “Selfs die hare op julle kop is almal getel. Moenie bang wees nie.”

Het God Lisa se lofprysing in haar storms gehoor? Verseker. Het Hy haar dalk voorberei om sy goedheid te beleef die dag voordat ons haar besoek het? Ek is amper oortuig daarvan. As ons Hom prys, sien Hy ons. As ons soms net kan fluister in gebed omdat die uitdaging so oorweldigend voel, hoor Hy dit. Mag ons nooit vergeet dat ons elkeen se naam op sy handpalm gegraveer is, dat Hy weet hoeveel hare op ons elkeen se kop is en meer nog, dat Hy ons elkeen oneindig lief het. Sterkte.

Vader God, baie dankie dat oor my omgee. Help my asseblief om my geloof en vertroue in U te behou te midde van enige storm in my lewe. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

  • Kyk na die video van die verrassing by www.benescke.co.za of op die sosiale media, Fbook se Stories van Hoop bladsy.
  • Opdrag vir die dag: Waar in jou lewe het jy al soos Lisa, God se betrokkenheid in jou lewe beleef? Dank Hom daarvoor.
  • Terugvoer: Deel gerus ook jou getuienis van God se deurbrake in jou lewe met my by This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.. Jy kan ook net saamgesels of terugvoer gee as jy wil. Dit is altyd lekker om van jou te hoor. Benescke