Deur Benescke Janse van Rensburg

Agtergrond: ’n Paar lesers het na Dag 1 se stukkie gereageer op die vraag: “Aanbid jy God omdat jy Hom ken en liefhet of bloot omdat jy dink dit die ‘regte ding’ is om te doen?” Een leser het geskryf: “Ek het vandag besef dat ek dalk bid omdat dit die regte ding is en omdat ek vrees wat gaan gebeur as ek nie glo in die Here nie. Waar begin ’n mens om dit reg te maak?” Voel jy vandag soos hierdie leser? Begeer jy om ons Vader beter te leer ken, maar jy weet nie waar om te begin nie?

Probeer gou die volgende: Maak jou oë vir ’n oomblik toe en dink aan God. Wat sien jy? ’n Glimlag, sagte oë en ’n warm hart of sien jy ’n kwaai man met ’n lang baard wat gereed sit om jou te oordeel? Soms sukkel mense om met God as ’n Pa ’n verhouding te bou omdat hul aardse pa afwesig was, hul seergemaak of teleurgestel het of dalk nooit liefde bewys het nie. Die gedagte om ’n verhouding met God as ’n Pa te bou laat voel so iemand selfs ongemaklik.

God verstaan dit. Hy ken ons elkeen se diepste wese. Juis hierom begeer Hy om Homself op maniere aan ons te openbaar wat ons wel mee kan vereenselwig. Soms beperk ons Hom deur vas te kyk in ’n bepaalde manier wat ons dink dat Hy met ons moet “kommunikeer”. As ons dan nie sy stem hoor nie, glo ons dat Hy nie met ons wil praat nie. Die waarheid is egter dat God op verskillende maniere na ons uitreik. Soms praat Hy uit sy Woord, ander kere uit die natuur of in gesprekke met mense. Soms werk dinge só uit dat jy weet ’n Hoër Hand was betrokke en ander kere gebruik Hy die klein, skynbaar onbelangrike dingetjies in ons lewens (waarvan net jy en Hy weet) om ons te herinner dat Hy werklik weet wat in ons harte aangaan (môre vertel ek só storie).

In Lukas 24 het Jesus ná sy opstanding vir ’n hele dag lank saam met twee mans op pad na Emmaus gestap. Eers toe hulle daardie aand om die tafel sit en eet, het hulle oë oopgegaan en hulle het besef dat dit Hy was. In Hebreërs 13:2 lees ons: Moenie nalaat om gasvry te wees nie, want deur gasvry te wees, het sommige mense sonder dat hulle dit geweet het, engele as gaste gehuisves.” En in Matteus 7:7 staan geskryf:“...soek, en julle sal kry . . .”

God wil ons kom wys wie Hy is. Hy wil sy liefde aan ons kom demonstreer. Kom ons vra Hom om ons oë oop te maak en ons harte meer sensitief te maak om nie die geleenthede mis te loop (soos die Emmaüsgangers) om Hom te kan ervaar in ons lewens nie. Onthou, wie Hom soek, sal Hom vind. Sterkte.

Vader God, baie dankie dat U betrokke is in my lewe. Maak my asseblief deur u Heilige Gees attent op U teenwoordigheid reg rondom my. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

  • Opdrag vir die dag: Hier is vir jou drie van God se karaktereienskappe: Almagtigheid, Beskermer, Voorsiener. Dink na oor elk van die eienskappe. Wat beteken dit vir jou in jou lewe? Watter ander eienskappe staan vir jou uit? Skryf dit neer en dink daaroor na. Só leer ken ons Hom.
  • Terugvoer: As jy in hierdie maand wil saamgesels of terugvoer wil gee, doen dit gerus by This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.. Ek wil graag van jou hoor. Benescke