Deur Benescke Janse van Rensburg

Aan die einde van verlede jaar het oogdokters ’n skokontdekking gemaak toe ’n 68-jarige vrou vir ’n roetine operasie opdaag. In stede daarvan om net haar katarakte van haar oë te verwyder, het hulle 27 weggooibare kontaklense in haar een oog ontdek! Sy het vir 35 jaar lank maandeliks weggooibare kontaklense gedra sonder om ooit ’n dokter te besoek. Met tyd het sy gewoond geraak aan die krapperigheid in haar oë en dit aan droogheid toegeskryf. Nadat die kontaklense verwyder is, was die krapperigheid egter vir die eerste keer weg en haar visie heelwat beter.

As gelowiges ervaar ons soms ook ’n “krapperigheid” aan ons binnekant. As ons mooi ondersoek instel sal ons besef dat dit heel moontlik die Heilige Gees is wat ons attent maak op iets wat nie in orde is nie. Dit kan verskillende dinge wees, byvoorbeeld jou ongeduld met jou kinders, jou liefde vir ’n skinderstorie, flankering met iemand buite jou huwelik, ’n verkeerde besluit of selfs ’n duistere transaksie waarmee jy tans besig is.

Die oomblik dat ons identifiseer wat die krapperigheid veroorsaak – en daarvan afstand doen, ervaar ons hoe die vrede na ons binneste terugkeer. Tog, as ons dit ignoreer leer ons mettertyd (soos die vrou met die kontaklense), met die “krapperigheid” saamleef terwyl ons dit toeskryf aan iets anders. Dit verblind ons om God se beste vir ons lewe te beleef.

In 1 Johannes 1:9 lees ons egter: “. . . as ons ons sondes bely – Hy is getrou en regverdig, Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid.”

Is daar ’n krapperigheid in jou lewe? Dit is daar omdat Jesus vir ons die Trooster en Leidsman in die vorm van die Heilige Gees as geskenk gestuur het om ons bewus te maak daarvan. Kom ons identifiseer die oorsaak van dit wat krap en doen iets daaraan. Dit mag ons ook dalk met nuwe oë – en ’n duideliker visie – na die lewe laat kyk. Sterkte.

Vader God, baie dankie vir u Heilige Gees wat ons daagliks lei, waarsku en vertroos. Help my asseblief om dadelik ag te slaan op enige krapperigheid aan my binneste sodat ek u Heilige Gees se stem duidelik kan hoor. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

Sien foto van die vrou se kontaklense en ook die nuusberig op die sosiale netwerk,  Fbook se Stories van Hoop bladsy of by www.benescke.co.za