Tema vir September: Wie is Hy?

Deur Benescke Janse van Rensburg

’n Twaalfjarige seun het twee jaar gelede in ’n kunsgalery in Taipei gestruikel. In die valslag het hy per ongeluk met sy vinger ’n gat in ’n 17de-eeuse skildery gedruk. Die skildery was in daardie stadium €1,3 miljoen (oftewel bykans R20 miljoen) werd.

Die oomblik toe die skildery skeur, het die waarde daarvan in die grond in getuimel. Kon dit herstel word? Ja, maar dit sou tyd neem. Tog, tydens die restourasieproses kyk die restoureerder na die hele skildery en hy of sy herstel alles wat uit plek is. Met die voltooiing van die proses behoort die skildery selfs meer waardevol te wees.

In ons eie lewens voel ons ook soms waardeloos weens verkeerde besluite, seermaak woorde of mislukkings wat ons beleef het. Die waarheid is egter dat God hierdie “gat” wat dit in ons harte veroorsaak het, kan kom heelmaak en dat Hy die gejaagde gevoel binne jou kan kom stilmaak.

In Jesaja 57:18-19 sê Hy immers: “Ek sal hulle gesond maak. . . Hulle treur nou, maar Ek sal hulle laat sing. Dit sal weer goed gaan.” Ook in Openbaring 21:5 staan geskryf: Toe sê Hy wat op die troon sit: ‘Kyk, Ek maak alles nuut.’ En daarna sê Hy: ‘Skryf hierdie woorde op, want hulle is betroubaar en waar.’”

Wanneer God sy restourasieproses in ons lewens doen, kyk Hy na ons hele karakter. Soms neem dit tyd, maar as ons bereid is om deur die proses te gaan, word ons ’n sterker instrument in sy hande en ook meer waardevol vir ander mense om ons omdat ons sy karakter reflekteer. Wat benodig restourasie in jou lewe vandag? Niks is vir Hom onmoontlik nie. Kom ons vertrou Hom daarvoor. Sterkte.

Vader God, baie dankie dat U my waarde sien en kan herstel as ek weens foute of verkeerde besluite waardeloos voel. Help my asseblief om my waarde in u oë te verstaan. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.