Tema vir September: Wie is Hy?

Deur Benescke Janse van Rensburg

7 sekondes is volgens kliniese sielkundige, Linda Blair in haar boek, Straight Talk, hoe lank dit vir ons neem om te besluit of ons van iemand hou of nie nadat ons hulle ontmoet het. Sy beskryf dit as ’n onbewustelike proses.

Tog wonder ek: Hou jy van God? Aanbid jy Hom omdat jy Hom ken en lief het of bloot omdat jy dink dit die “regte ding” is om te doen? Dink ’n bietjie na oor hierdie vraag.

Nadat ons iemand ontmoet het, kan ons opinie oor die persoon verander sodra ons tyd in sy of haar teenwoordigheid spandeer het – veral in ’n druktyd omdat ’n persoon se ware karakter só na vore kom.  

Dieselfde geld vir ons verhouding met God. Die aanvanklike opgewondenheid nadat ons tot bekering gekom het, kan maklik verminder wanneer dinge nie uitwerk soos wat ons op gehoop het nie. Jou huwelik het dalk steeds in ’n egskeiding geëindig of ’n siek geliefde gesterf al het jy met geloof gebid. Of jy bid al vir maande en selfs jare vir ’n bepaalde deurbraak en jy het dit nog nie beleef nie. Hoe affekteer dit jou persepsie van wie God is? Glo jy steeds dat Hy in beheer van jou lewe is? Glo jy steeds dat Hy wonderwerke kan doen en alles ten goede kan laat meewerk?

In Jakobus 4:8 lees ons: “Nader tot God en Hy sal tot julle nader.”

God begeer dat ons tyd in sy teenwoordigheid moet spandeer. Hy wil sy goedheid en liefde aan ons kom demonstreer. Die probleem is dat ons soms so besig raak met ons dagtaak dat ons onsself “gelowiges” noem, maar nooit die Een beter leer ken waarin ons glo nie.

My uitdaging aan jou vir September-maand: Kom ons fokus doelbewus daarop om God beter te leer ken. Kom ons vra die Heilige Gees om verkeerde persepsies wat ons van God het uit te wys en ons bewus te maak van sy goedheid en liefde reg rondom ons. Ons mag dalk verstom staan oor hoe teenwoordig Hy elke dag reg rondom ons is. Sterkte.

Vader God, baie dankie vir u goedheid en liefde. Open asseblief my geestelike oë en ore sodat ek van U kan hoor en dat ek U beter kan leer ken in die maand wat volg. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

Opdrag vir die dag:

  • Dink na: Hou jy van God? Aanbid jy Hom omdat jy Hom ken en lief het of bloot omdat jy dink dit die “regte ding” is om te doen? Skryf vir jouself neer hoekom jy Hom lief het en dank Hom daarvoor.

Terugvoer: As jy in hierdie maand wil saamgesels of terugvoer wil gee, doen dit gerus by This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.. Ek wil graag van jou hoor. Benescke