Danny Fourie

Dassies het nie veel krag nie en tog maak hulle hulle tuis teen die kranse.  Spreuke 30:26

Dit is hoegenaamd nie te sê dat dit wat groot is van meer betekenis is as dit wat klein is en dat dit wat klein is minder waarde sou hê as dit wat groot is nie. Die teenoorgestelde is dikwels waar.

Agur noem vier klein diere, naamlik miere, dassies, sprinkane en geitjies (vers 24-28). Volgens hom het hulle 'n geheim waarvan hy ons wil vertel.

Die dassies sê Agur is 'n “magtelose volk” (1953-vertaling). In hul wysheid het hulle hul skuilplekke in die kranse en skeure gemaak. Daar is hulle beskerm teen die roofdiere en roofvoëls.

Dassies maak hulle nie aan volstruispolitiek skuldig deur te dink hulle is sterk, terwyl hulle eintlik kwesbaar is nie. Hulle is realisties, erken hul swakheid en hou daarmee rekening.

Dit is ook vir ons van belang dat ons na ons eie swakheid kyk. Ons wil nie magteloos wees nie. Ons streef na mag. Daarom moet ons na die klein diere kyk. Ons is dwaas om te dink dat ons magtig is. Ons is mense wat teen God gesondig het en is magteloos om die goeie te doen. Magteloos teen die aanvalle van die bose.

Wat doen die dassies? Hulle keer gereeld na hul skuilplek tussen die klippe en skeure terug. Dan is hulle veilig.

Die vraag is nou waar vind ons 'n skuilplek teen die sonde en die bose? Waar anders is ons veilig as by die Here ons God? Dit is opvallend hoe dikwels die Here met 'n rots vergelyk word. In sy genade wil Hy vir ons 'n rots wees waar ons kan skuil.

Die geheim van 'n gelowige is die geheim van die dassie. In ons self is ons swak, maar sterk in God, die rots. Paulus ken hierdie geheim. Vroeër was hy in sy oë sterk, maar toe hy deur Christus neergevel is, het hy magteloos geword. Christus het daarna sy lewenskrag geword en Paulus se lewensraad het geword: “… want as ek swak is, is ek sterk” (2 Korintiërs 12:10). So kan hy later in die gevangenis sit, nie as iemand wat verslaan is nie, maar as oorwinnaar.

Gebed: Here, wees U vir ons 'n skuilplek, sodat wanneer die sorge van die lewe kom deur siekte, hartseer, verwerping en uiteindelik die dood, dan is U ons Rots waarop ons kan staan. Amen.