Danny Fourie

Net twee dinge vra ek van U; moet my dit tog nie weier nie; daarna kan ek sterf: moenie toelaat dat ek vals is en lieg nie; moet my nie arm maak of ryk nie, gee my net die kos wat ek nodig het, sodat ek nie te veel het en U verloën en sê: “Wie is die Here?” nie, en sodat ek nie arm word en steel en my God se Naam oneer aandoen nie.  Spreuke 30:7-9

Agur bid dat hy nie ryk sal word nie, want hy is bang vir die hoogmoed en ongeloof in sy hart. Daar kan 'n demoniese mag in rykdom skuil – in die groot en kleine. Daar skuil 'n gevaar in om van die Here af weggetrek te word. Dis waar: net die sterk bene kan die rykdom dra. Agur is bang hy sal die Here verloën. Die Here is die God van die verbond wat al sy goedheid en genadige sorg aan Agur betoon het.

Agur bid nie alleen om nie ryk te word nie, maar hy bid ook om van die armoede gespaar te bly. Dit is iets wat ons dalk beter kan verstaan. Armoede bring soveel ellende saam. Jy moet jouself baie dinge ontsê. Op hierdie punt kan ons Agur goed navolg.

Tog bedoel Agur iets anders wanneer hy bid dat hy van die armoede gespaar sal bly. Hy is nie soseer bang vir die ellende wat die armoede bring nie, maar dat hy sal begin steel en daardeur die Naam van die Here sal aantas. Maar is godvresende mense soos Agur in staat om te steel? 'n Christen doen dit tog nie? Dit is mos net ongelowige mense wat dit doen? Iemand wat so dink, ken nie die mag van die bose en ewemin sy of haar eie bedorwenheid nie.

Agur sien homself as in staat om te gaan steel as hy arm moet word. Wanneer hy so sou optree, sou hy die Naam van God aantas. Die Naam van God is sy grootste rykdom. Om te gaan steel sou 'n sonde teen die liefde van God wees.

Agur bid nie vir rykdom of armoede nie, maar vir wat nodig is. Nie die hoogste stand nie, nie die laagste stand nie, maar die middelstand. Dan het hy nie te veel nie, want dit is nie goed vir hom nie. Dan het hy nie te min nie, want ook dit is nie goed vir hom nie. Dan het hy genoeg en dit is goed vir hom, want dan het hy God elke dag nodig. Vir hom is dit 'n vrugbare lewe, vol geloofsoefening.

Gebed: Here, gee dat ons gedurig sal bid vir dit wat vir ons goed is. Wat ons daarvan sal bewaar om u Naam aan te tas. Amen.