Danny Fourie

As jy genoeg geëet het, is selfs heuning nie meer lekker nie; as jy honger is, smaak selfs 'n bitter ding soet.  Spreuke 27:7

In Israel was heuning 'n edel produk. Mense het dit vir die lekker geëet, maar ook as voedingsmiddel. Johannes die Doper het jare lank op heuning geleef. Heuning was 'n kosbare produk.

In hierdie teks is daar ook sprake van heuning. Anders as wat 'n mens sou verwag, word die heuning hier nie hoog op prys gestel nie. Die 1953-vertaling sê dit meer direk: “’n Versadigde siel vertrap die heuningstroop, maar vir ’n hongerige siel is alles wat bitter is, soet.”

Wat gaan hier aan? Salomo vertel van 'n man wat te veel geëet het, hopeloos te veel. Hy is skoon mislik geëet. Nou gooi hy die kosbare heuning op die grond en trap daarop. Hy gee dit nie eers vir iemand anders nie. Wat 'n sonde!

Ons leef in 'n tyd van welvaart. Baie van ons het vroeër ander tye beleef. Toe was daar dikwels geen welvaart nie, maar armoede. Nou is daar oorvloed. Dit sal 'n studie werd wees om te ondersoek wat daar in die loop van een generasie op ons tafels by gekom het. Deesdae staan daar duur geregte op baie tafels.

Moet ons die seëninge wat God ons gee versmaai? Definitief nie. Ons mag dit as geskenk uit God se hand aanvaar. Ons mag diep dankbaar daarvoor wees. Maar wat is nou die gevaar? Dat ons soos die man in ons teksvers raak. Die man wat die heuningstroop vertrap omdat hy oorversadig was.

Hoeveel kos gooi ons nie weg nie. Net in Junie 2017 was daar 'n berig oor kos wat weggegooi word. Wêreldwyd word byna ’n derde van alle voedsel vermors en dit kos die wêreldekonomie ongeveer $940 miljard per jaar. En dit is nie omdat ons ondankbaar is oor die kos nie, maar omdat dit nooit genoeg en nooit goed genoeg is nie.

Dit geld nie net vir ons kos nie, maar vir ons hele lewenswyse. Ons ontspanning, ons huise, ons klerekas en ons genotmiddels. Ons kan so gulsig raak, dat ons ten slotte daarvan siek word. Dan is ons die menslike maatstaf kwyt soos die man in die teksvers.

Gebed: Dankie Vader vir u sorgsaamheid en al die gawes wat U ons gee. Help ons om nie beskuldig te word dat ons oordadig leef nie. Help ons om 'n gesonde maatstaf te handhaaf. Amen.