Danny Fourie

Liewer min hê en die Here dien as groot rykdom en bekommernis daaroor. Liewer net ’n bietjie groente en liefde daarby as ’n vetgemaakte os en haat daarby. Spreuke 15:16-17

Wanneer 'n mens om jou kyk, val dit jou op hoeveel gesinne daar is wat 'n groot skat het. Soos wat Salomo dit beskryf. Hulle ken geen armoede nie. Hulle het volop te eet en te drink, klere, gerief, ontspanning, vrye tyd en baie ander skatte. Jongmense kan kies wat hulle wil studeer. Sulke gesinne het dit goed – resessie of nie – veral as 'n mens dink hoe dit voorheen gegaan het.

As jy nou vra of sulke gesinne werklik welvaart beleef, dan moet 'n mens sê dat Salomo ons tyd goed getipeer het. Talle gesinne besit wel 'n groot skat, maar daar is onrus daar by. Onrus is een van die kenmerke van ons tyd. Mense kom nie tot rus nie, hulle voel bedreig en kan nêrens rus vind nie.

'n Mens kan nou die onrus maklik verklaar deur op die sondeval te wys. Dan sê ons dat sedert die sondeval het ons die ware rus verloor en groei daar dorings en distels op ons lewenspad. Moet die mens in die “sweet van sy aangesig” sy brood verdien. Dit is waar. Ons kom almal in aanraking met die gevolge van die sondeval.

Daarmee kan ons egter nie met hierdie onrus wegdoen nie. In baie gesinne het die onrus so groot geword dat daar sprake van 'n epidemie is.

Die gedagte is dat die welvaart die onrus moes wegneem, maar dit het alleen maar die onrus aangehelp. Hoeveel leef nie asof alles van hul eie prestasie afhang nie? Hoeveel leef nie met die chroniese angs om hulle besittings te verloor nie?

Hoe gebeur dit dat baie mense so 'n onrus beleef? Dit gebeur omdat die vrees van die Here in hul lewe ontbreek. Die magte van ongeloof trek baie mense weg van God. Sonder God is die lewe 'n stuk slawerny. Dit is die nood van baie mense in ons tyd. Augustinus het gesê ons hart bly onrustig totdat dit by God rus vind.

Gebed: Here, ons grootste behoefte is na rus. Tog laat ons toe dat ons gedryf word deur 'n angs om onsself en alles om ons te verloor. Help ons om op U te vertrou en uit u genade te leef en af te sien van ons eie pogings. Amen.