Danny Fourie

Op ’n vriend se liefde kan jy altyd reken; jou broer is daar met die oog op jou nood Spreuke 17:17

Wanneer is iemand 'n ware vriend? As hy of sy ten alle tye liefhet, skryf Salomo. Nie vir een dag of een jaar nie, maar ten alle tye. Nie net in tye van voorspoed nie, maar ook in tye van teenspoed.

Ware vriendskap is 'n seldsame ding. Minder seldsaam is die vriendskap in die gelykenis van die verlore seun. Solank daar geld en goed is, is daar swerms vriende om jou, maar as alles op is, sien jy die “vriende” nie weer nie. Sulke vriendskappe is nie egte vriendskappe nie. Dit is 'n heimlike egoïsme.

Ware vriendskap is soos 'n koringaar wat uit die graankorrel van liefde ontkiem. Meestal groei dit stadig. 'n Vriendskap wat vinnig groei hou gewoonlik nie lank nie. Soos wat die graankorrel homself ten behoewe van die koringaar verteer, so offer die eie-ek hom- en haarself op ten behoewe van die vriendskap.

Salomo plaas 'n hoë prys op so 'n vriendskap. Daar is iets wonderliks in die vriendskapsliefde. Hierdie liefde is een van 'n vrye keuse. Daar is geen verpligting nie. Dit maak die vriendskap uniek.

'n Mens dink hier aan die vriendskap tussen Dawid en Jonatan. 'n Mens hoor hoe die liefde huil wanneer Jonatan sterf en Dawid sy hartseer na die hemel uithuil (2 Samuel 1:17-27). So 'n ware vriendskap hou stand deur alle beproewings heen. Juis in 'n mens se nood leer ken jy jou ware vriende.

In die nood word 'n vriend soos 'n broer (of suster). Dit is wat Salomo bedoel as hy sê: “Jou broer is daar met die oog op jou nood.” “Die broer word gebore met die oog op die nood” (1953-vertaling). As 'n vriend getrou bly, ook in die nood, dan word hy of sy selfs 'n broer of suster. Dit gaan verder, dieper. So 'n broer word gebore. Daar is iets van 'n verrassing daarin, maar soos met 'n geboorte gaan dit met pyn gepaard. So 'n vriend is 'n geskenk van God, 'n broer of suster, wat 'n steun en troos vir sy of haar medemens is.

Hierdie vriendskap kom nie uit 'n mens self nie. Dit word deur die Heilige Gees gewek. Dit groei uit die vrees van die Here en dra die rype vrug van broederliefde.

Gebed:Here, so dikwels laat mense wat ons gemeen het ons vriende is, ons in die steek. Help ons om ware vriende te vind. Help ons om 'n ware vriend vir iemand te wees. Amen.