Louise Gevers

God self het gesê: “Ek sal jou nooit verlaat nie, jou nooit in die steek laat nie.”  Hebreërs 13:5

Die boek Rut is 'n diep en aangrypende verhaal en verdien om, soos die boek Ester, in sy geheel gelees te word. Nie net is dit die inspirerende liefdesverhaal van Rut en Boas met 'n gelukkige einde nie, maar dit is ook die pragtige verhaal van die verhouding tussen die jong weduwee en haar skoonma. Rut en Naomi deel 'n sterk, onselfsugtige band in hulle stryd om oorlewing, maar meer nog is dit ook die verhaal van God se getrouheid in die lewens van die weduwees wat bewys word deur die wonderlike manier wat Hy hulle na nuwe lewe, liefde en genesing lei.

Naomi moes op 'n besondere manier Rut en Orpa, haar ander skoondogter, liefgehad en vir hulle omgegee het, en sy het ook getrou teenoor hulle van die bestaan van Israel se wyse en liefdevolle God getuig. Sy het geweet dat sy niks gehad het om hulle te bied nie, maar sy vertrou dat die Here sal voorsien. Sy seën hulle en haar wyse raad aan hulle is: “Julle moet liewer teruggaan na julle ouerhuise toe. Mag die Here sy liefde aan julle bewys, soos julle aan die oorledenes en aan my liefde bewys het. Mag die Here vir julle elkeen weer 'n goeie man en 'n heenkome gee.” (Rut 1:8-9)

Naomi is bekommerd oor Rut en Orpa se welstand en geluk, maar hulle is bekommerd oor haar en beide begin huil toe hulle moet afskeid neem. Alhoewel Orpa uiteindelik tog besluit om terug te gaan, besluit Rut om by Naomi te bly en haar woorde getuig van haar liefde en toewyding wanneer sy sê: “Moet my tog nie dwing om van u af weg te gaan en om om te draai nie, want waar u gaan, sal ek gaan; waar u bly, sal ek bly; u volk is my volk; u God is my God; waar u sterf, sal ek sterf en daar sal ek begrawe word. Ek lê 'n eed af voor die Here: net die dood sal ons skei.” (Rut 1:16-17)

Rut het duidelik besluit dat Naomi en alles waarvoor sy gestaan het, vir haar die belangrikste was en daarom het sy haar bo alles gekies. So groot was haar liefde en respek vir Naomi dat sy haar eie familie, land en gode vrywillig verlaat het. Rut se woorde aan Naomi getuig van getrouheid wat onveranderlik is, netsoos God getrou aan sy kinders is. En Hy het haar beloon.

Getrouheid is een van God se kosbaarste eienskappe en lewensbelangrik in sy verhouding met ons. Sy getrouheid laat ons besef dat Hy ons vir ewig sal liefhê en dat Hy nooit sy besluit sal verander nie. Ons kan Hom vertrou want Hy is onveranderlik (Numeri 23:19, Hebreërs 13:8) en Hy sal in ons lewens werk netsoos Hy in Rut s'n gewerk het. Wanneer Hy ons verseker dat Hy ons nooit sal verlaat nie en dat Hy ons nooit in die steek sal laat nie, hoef ons nooit daaroor te twyfel nie.

Gebed: Liewe Vader, dankie vir u getrouheid en vir die wete dat U my nooit in moeilike tye sal verlaat nie. Dankie dat U my na u beeld geskape het, en getrouheid ook deel van my gemaak het. Help my om elkde dag meer getrou te wees. Amen