Louise Gevers

Die Here het haar vir Paulus se woorde ontvanklik gemaak. Sy en haar huisgesin is toe gedoop. Daarna het sy ons uitgenooi en gesê: “Aangesien julle daarvan oortuig is dat ek in die Here glo, kom gaan by my tuis.”   Handelinge 16:14-15

Om 'n entrepeneur te wees met jou eie besigheid is vandag vir baie mense in die wêreld belangrik. Dit kan 'n goeie ding wees waardeur jy kan groei en wat jy tot voordeel van baie kan gebruik – dit is wat jy daarmee doen wat saak maak. Gister het ons gesien hoe Petrus gefloreer het deur Jesus te volg. Hy het onmiddellik sy vissersbesigheid laat vaar toe Jesus hom geroep het. Vandag kyk ons na die impak van die evangelie op die lewe van 'n sakevrou in Filippi.

Tydens Paulus se tweede sendingreis saam met Silas, het hy 'n visie gehad dat 'n man uit Masedonië hom gesmeek het om oor te kom om hulle te help, en hy het daaruit afgelei dat God hom geroep het om daar die evangelie te gaan verkondig. (Handelinge 16:9) Hy het toe saam met Silas, Timoteus en Lukas na Masedonië vertrek en hulle het onderweg 'n ruk lank in Filippi gebly. Paulus het daar gepreek en 'n bekeerling gemaak. Sy was na alle waarskynlikheid die eerste Europese bekeerling en as gevolg van die impak wat die evangelie op haar gehad het, het haar besigheid die weg vir die uitbreiding van die evangelie in daardie streek geopen.

Lidia, oorspronklik van Tiatira afkomstig, het met pers wolmateriaal handel gedryf en sy het die Joodse geloof aangeneem. Sy was een van die groep vroue wat op die Sabbat buite die stadspoorte bymekaar was om te bid. Paulus en sy metgeselle het ook soontoe gegaan in die hoop om 'n sinagoge te vind. ('n Godsdiens wat nie amptelik erken is nie, kon nie in die stad vergader nie.) Paulus het die evangelie aan die groep verkondig en hulle vertel dat Jesus die sonde en die dood deur sy eie dood en opstanding oorwin het. Lidia het geglo.

Alhoewel sy reeds in God geglo het, was sy op soek na 'n dieper begrip van Hom en Hy het haar behoefte deur die evangelie beantwoord. Hierdie boodskap het haar lewe verander. Nie net is sy gedoop nie, maar sy het die ander lede van haar gesin gebring om ook gedoop te word; en toe vol blydskap en dankbaarheid teenoor God het sy Paulus en sy vriende op so 'n manier genooi om by haar tuis te gaan terwyl hulle in Filippi is, dat hulle nie kon weier nie: “Aangesien julle daarvan oortuig is dat ek in die Here glo, kom gaan by my tuis.” (Handelinge 16:15)

Hulle het haar ruimhartige gasvryheid aanvaar, en daarna het die nuwe gemeente voortgegaan om in haar huis bymekaar te kom. (Handelinge 16:40)

Gebed: Liewe Heer, gee dat die krag van die evangelie my so sal verander dat elke deel van my lewe en werk deur U gebruik kan word tot seën van ander en tot eer van u Naam.  Amen