Hennie Symington

“Jy moet jou vyande liefhê en bid vir die wat jou vervolg.” Lukas 6:27

Die wêreld is nie altyd ʼn mooi plek om in te wees nie. Met CNN wat die wêreld in al sy smartlikhied na ons sitkamer en binnekamer toe bring, kan ons nie anders as om bewoë te raak oor alles wat op Gods aarde gebeur nie. Ons sien hoe die wreedheid van die mens nuwe afmetings aanneem soos wat mense mekaar daagliks op die allerwreedste wyse vernietig. Dis in tye soos hierdie dat vergifnis byna ʼn saak van onmoontlikheid word.

Beelde uit talle oorloggeteisterde gebiede van onbeskryflike pyn en lyding laat ons sprakeloos.  Daar gaan nie ʼn dag verby dat ons nie bewus is van die skade wat oorlog en misdaad in ons midde verrig nie. Wanneer ons die wreedheid teenoor die weerloses aanskou voel ons soos baie ander wat sê: “Ek gaan nie haastig wees om te vergewe nie.” Om sulke verfoeilike dade te vergewe skyn bykans onmoonlik te wees. Tog beveel God ons om dit te doen.

Wat beteken vergifnis dan? Dis ʼn besluit – ʼn geloofskeuse – om iemand se oortredings nie teen hom of haar te hou nie. Dis ʼn opdrag van God. “Maar Here, U weet nie hoe erg dit vir my is nie!” protesteer ons. God weet juis hoe erg dit is; Hy het sy seun wat elke oortreding van die mensdom op hom geneem het, sien sterf aan ʼn kruis – sy seun wat self gesê: “Jy moet jou vyande liefhê en bid vir die wat jou vervolg.” (Lukas 6:27).

Hoekom is dit dan so belangrik vir God dat ons moet vergewe wanneer alles binne in ons daarteen in opstand kom. Om te vergewe is nie noodwendig ʼn onselfsugtige daad nie. Om te weier om te vergewe gee die persoon of groep wat jou te na gekom het ʼn houvas op jou omdat dit jou met haat en woede vul. En so word jy ʼn dubbele slagoffer.

Gebed: Here, leer ons om in ʼn ongenadige wêreld waar die wet van ʼn oog vir ʼn oog, en ʼn tand vir ʼn tand geld, die voorbeeld van u Seun wat ter wille van ons oortredings aan ʼn kruis gesterf het, na te volg. Amen