Hennie Symington

Ek sal hul oortredings vergewe en nie meer aan hulle sondes dink nie.  Jeremia 31:34b

Ons dank God dat julle van die sonde vrygemaak is en slawe van God geword het wat sy wil doen. Romeine 6:13

Wanneer God die boeke oopslaan op die oordeelsdag soos beskryf in Openbaring 20:12, en ons sonde daarin opgeteken staan, sal God dit teen ons hou? Gaan hy al ons oortredings oproep uit sy goddelike geheue?

Miskien moet ʼn mens dit so probeer verduidelik. God het nie sy “hardeskyf” of “geheuebank” uitgevee nie, maar Hy kies om nie te onthou nie. In Jeremia 31:34 lees ons dat God ons sondes vergewe het en dat Hy nie meer daaraan dink nie. Om “nie daaraan te dink nie” is anders as om te vergeet. Dit beteken dat ʼn mens nie moeite doen om iets te herroep nie. Dit is wat God doen met ons sondes.

Ons sal altyd pynlike herinneringe aan ons sonde saam met ons dra want die effek van sonde kring ver uit. Selfs jare na sekere oortredings oorweldig die enormiteit daarvan ons steeds. Ons het egter die keuse om nie toe te laat dat die sonde van die verlede ons toekoms bederf nie. Deur God se genade hoef ons dit nie telkens in herinnering te bring nie.

Op talle plekke in sy Woord herinner God ons daaraan dat ons oortredings iets van die verlede is. Hy verwyder dit so ver as die ooste is van die weste (Psalm. 103:12). Ons mag nie weer daarnatoe teruggaan nie. God plaas ook geen beperking op vergifnis nie. Dit geld vir altyd. Die wonder van God se vergifnis is, is dat ons van nuuts af kan begin.

Gebed: Here, ons kan nie verdra dat ons vir ewig met ons sonde moet saamleef nie. Dankie dat U vergewe en kies om nie te onthou nie. Help ons om ook so te vergewe. Amen.