Deur Benescke Janse van Rensburg

'n Tyd gelede lees ek van 'n vrou, Jenna, wat vertel hoe sy begin het om "luister-gebed" in haar geloofslewe toe te pas. Wat dit behels is dat sy tydens haar gebede soms ook net stilbly en luister na wat God vir haar terugsê oor sake wat sy met Hom bespreek het. Wat sy gehoor het, het sy in haar joernaal neerskryf en aan die Woord van God gemeet. Hierdie gewoonte het haar gebeds- en geloofslewe ingrypend verander.

Jenna vertel onder meer van 'n insident by die werkplek. Een oggend het sy by die werk ontdek dat 'n boek met hoogs konfidensiële inligting, wat sy te alle tye agter slot en grendel bewaar het, uit haar kas verdwyn het. Alhoewel sy die kantoor deurgesoek het en almal daarna gevra het, het niemand kennis van die boek gedra nie. By die besef dat sy 'n doodloopstraat bereik het, het sy haar motorsleutels gevat, in haar motor gespring en huis toe vertrek. Dáár het sy in haar gebedskamer ingegaan en op haar knieë vir God gesmeek om haar te wys waar die boek is. Vinnig het een van haar kollegas se name duidelik in haar gees geval. Dit het glad nie sin gemaak nie, aangesien sy daardie oggend spesifiek vir dié kollega gevra het of sy die boek gesien het, maar sy het dit ontken.

In geloof het Jenna terug werk toe vertrek. Senuweeagtig het sy vir oulaas buite die kantoor 'n diep asemteug geneem voordat sy in geloof by die betrokke kollega ingestap het. Haar woorde was eenvoudig: "Kan ek asseblief my boek terugkry?" Die kollega was duidelik uit die veld geslaan en het vies geantwoord: "Wie gee jou die reg om my vals te kom beskuldig?" Sonder om te blik of te bloos het Jenna geantwoord: "Ek kom na jou met die Hoogste Gesag moontlik. Gee asseblief my boek dadelik vir my terug." Die kollega het vir 'n oomblik gehuiwer voordat sy vorentoe in haar stoel gesit het, haar lessenaar se laai oopgetrek het en die verlore boek aan die vrou oorhandig het.  

As gelowiges erken ons maklik dat ons glo dat EK IS met ons praat. Tog wonder ek hoeveel van ons op 'n gereelde basis "luister-gebed" in ons lewens toepas? Kan ons sê dat ons EK IS se stem deur sy Heilige Gees op 'n daaglikse basis hoor?

In Jeremia 33:3 lees ons: "Roep My aan, Ek sal jou antwoord..." En in Jesaja 59:1 staan geskryf: “Die arm van die Here is nie te kort om te help nie en sy oor is nie te doof om te hoor nie.” Tog neem dit soms geloof om te doen wat ons glo dat ons gehoor het. In Hebreërs 11:6 lees ons egter: “Wie tot God nader, moet glo dat Hy bestaan en dat Hy dié wat Hom soek, beloon.”  Ook Jesus het in Johannes 10:27 gesê: "My skape luister na my stem; Ek ken hulle, en hulle volg My." Hoe meer tyd ons in God se teenwoordigheid spandeer, hoe duideliker sal ons sy stem leer ken.

Kom ons maak dus 'n punt om 'n joernaal aan te skaf en tyd uit te sit om ook te luister wat EK Is vir ons wil sê. Kom ons volg die vrede in ons harte en meet wat ons hoor aan sy Woord. Hy sal immers nooit vir ons iets sê wat teenstrydig met sy Woord is nie. EK IS wil graag met ons elkeen praat. Ons moet net luister. Sterkte.

Vader God, baie dankie dat U met ons gesels. Help my asseblief om dit nie te mis deur my ongeloof of my fokus op my uitdagings nie. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.