Deur Benescke Janse van Rensburg

Maandag se brand in Pringlebaai en Orkaan Ike. In beide hierdie gevalle het die betrokke gebeure groot skade aangerig.

In Pringlebaai is 'n gesin se huis onder meer Maandag tot op die grond afgebrand. Net roet en as het oorgebly. Wat dit veral hartseer maak, is dat hulle vir 7 jaar lank aan dié huis gebou het - en dat die huise rondom hulle niks oorgekom het nie.   

In 2008 het Orkaan Ike binne 13 dae deur Kuba, Haïti, die Dominikaanse Republiek en Amerika getrek en sowat $10 biljoen se skade aangerig. 'n Foto ná die orkaan van die kuslyn in Gilchrist, Texas het my aandag getrek. Al is al die huise langs die kus platgevee, het slegs een staande gebly. Die huis staan vreemd regop asof die wind en water beveel is om reg rondom die huis te beweeg, maar nie daaraan te raak nie.

Soms voel ons lewens soos die huis in Pringlebaai. Platgebrand. Een na die ander krisis tref ons wat ons weerloos en hartseer laat, terwyl dit op die oog af lyk asof die mense rondom ons slegs geluk en voorspoed beleef. Tog moet ons erken dat daar ook aan die anderkant daardie tye is in ons lewens waarop ons kan terugkyk met die wete dat 'n Groter Hand ons beskerm het en dat Hy die winde en waters beveel het om nie aan ons te raak nie.

EK IS is heelwat nader aan ons en meer betrokke in ons lewens as wat ons soms voel. Te midde van storms, seerkry en teleurstellings, bly Hy in beheer. In Psalm 23:4 lees ons: "Selfs al gaan ek deur donker dieptes, sal ek nie bang wees nie, want U is by my. In u hande is ek veilig." In Jesaja 43:1-3 sê Hy: “Moenie bang wees nie, Ek verlos jou, Ek het jou op jou naam geroep, jy is Myne. As jy deur water moet gaan, is Ek by jou, deur riviere, hulle sal jou nie wegspoel nie; as jy deur vuur moet gaan, sal dit jou nie skroei nie . . . want Ek is die Here jou God. . .” En in 2 Tessalonisense 3:3 staan geskryf: "Die Here is getrou; Hy sal julle versterk en julle van die Bose bewaar."

EK IS beskerm ons in elke seisoen van ons lewens. Is dit Hy wat die storms in ons lewens veroorsaak? Natuurlik nie. Hy weet hoeveel ons kan hanteer en sal nooit enigiets in ons lewens toelaat wat ons nie sal kan hanteer nie. Hy dra ons, verlos ons en beskerm ons. En as dit vandag voel asof jou "huis" tot op die grond afgebrand is, weet dat Hy dit kan herbou. Kom ons hou ons oë op Hom. Hy bly Soewerein. Sterkte.

Vader God, baie dankie vir U beskerming in elke situasie waarin ek myself mag bevind. Help my om in U te rus as ek nie die seisoen verstaan nie. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.