Xanthe Hancox

Ons, omdat ons nie is soos baie ander wat geld maak uit die woord van God nie. Ons verkondig die woord in opregtheid, in verbondenheid met Christus, in opdrag van God en in verantwoordelikheid aan God.  2 Korintiërs 2:17

Paulus se kritici in Korinte het sy motiewe betwyfel. Ons het reeds gesien hoe hulle sy voornemens om hulle te besoek, bevraagteken het en gesuggereer het dat hy nie deursigtig was toe hy daaroor gepraat het nie. (2 Korintiërs1:15-18)

Nou blyk dit dat mense sy redes om die woord van God te verkondig, in twyfel trek. Kan mense hom werklik vertrou dat hy dit wat hy preek self glo of doen hy dit net om geld te maak soos "baie ander wat met God se woord smous" en in feitlik elke Romeinse stad te vinde was? Dit is egter duidelik dat Paulus nie saamgegroepeer wou word met die filosowe en politici van sy dag wat baie geld vir hulle toesprake gevra het nie.

Mense het in Paulus se tyd, soos ook vandag die geval is, die woord van God gebruik om vinnig geld te maak. Ons wêreld is vol godsdienstige kansvatters wat "met God se woord smous" en dit soos motors, selfone en sjokolade slegs vir wins bemark.

Paulus sê: "Ons is nie soos hulle nie."  Hy en sy medewerkers "verkondig die woord in opregtheid". Dit is duidelik dat hulle nie van plek tot plek gegaan het om die evangelie te verkondig om ryk te word nie; hulle het verstaan dat hulle deur God gestuur is met 'n verantwoordelikheid aan Hom.

Dit maak ons bewus daarvan dat die motivering om iets te doen nie net 'n private aangeleentheid is nie, veral wanneer geld ter sprake is. Die manier wat ons geld hanteer, skyn soos 'n laserstraal op die vraag hoe opreg ons as Christene is. Mense wil sien of die manier wat ons geld hanteer in lyn is met ons beginsels of vergeet ons van ons beginsels wanneer ons geld kan maak? Is ons onverskillig met ons uitgawes? Steek ons inkomste weg vir die ontvanger van inkomste? Raak ons betrokke by twyfelagtige belastingskuilings? Vra ons vir verhogings, kommissie en bonusse ten koste van ander? Probeer ons finansieel voordeel trek uit mense se moeilike omstandighede? Verdraai ons kontrakte ter wille van finansiële gewin? Die vraag is nie net of ons onsself kan regverdig nie, maar of mense kan sien dat ons aksies met ons Christelike geloof ooreenkom. Indien nie, doen ons oneer aan onsself, maar meer nog aan die Naam van Christus.

Gebed: Here, dankie dat alhoewel twintig eeue verbygegaan het sedert die tyd van Paulus, het U nie verander nie. U krag is vandag steeds dieselfde. Dankie Here dat ons u instrumente mag wees in hierdie tyd en help ons om goeie rentmeesters te wees van geld wat U aan ons toevertrou.  Amen