Xanthe Hancox

Maria het haar sonder versuim gereed gemaak en haastig na 'n dorp in die bergstreek van Judea gegaan. Daar het sy in Sagaria se huis ingegaan en vir Elisabet gegroet. Net toe Elisabet die groet van Maria hoor, het die kindjie in Elisabet se moederskoot beweeg, en sy is met die Heilige Gees vervul en het hard uitgeroep: “Geseënd is jy onder die vroue en geseënd is die vrug van jou moederskoot! Waaraan het ek dit te danke dat die moeder van my Here na my toe kom? Kyk, net toe die geluid van jou groet in my ore klink, het die kindjie in my van vreugde beweeg. Gelukkig is sy wat glo dat in vervulling sal gaan wat die Here vir haar gesê het!”  Lukas 1:39-45

Ons gaan in die komende weke meer oor Maria gesels, maar vandag wil ek net aandag gee aan haar besoek aan Elisabet. Nadat Lukas vir ons vertel van die engel Gabriël se besoek aan Maria, en voordat hy haar loflied met ons deel, deel hy 'n baie spesiale oomblik in die lewe van twee buitengewone vroue met ons.

Stel jou voor wat Maria moes gedink het op pad na Elisabet se huis. Miskien het sy dit wat sy wou vertel oor en oor in haar gedagtes herhaal. Sou Elisabet haar glo? Klink dit alles baie vergesog?

Maar op die oomblik dat sy die huis binnegaan en Elisabet groet, erken Elisabet haar as die moeder van haar Here. Lukas vertel nie vir ons wat Maria gesê het nie, maar die effek was so kragtig dat Elisabet met die Heilige Gees vervul is.

Nie Maria of Elisabet probeer om die middelpunt van belangrikheid te wees nie en is nie jaloers op mekaar nie. Elisabet het onmiddellik insig in Maria se se geloof: "Gelukkig is sy wat glo dat in vervulling sal gaan wat die Here vir haar gesê het!” (v45). Elisabet se eie man het die boodskap wat die Here vir hom gestuur het, betwyfel en daarom was hy stom, maar Maria het geglo. Hierdie besoek aan 'n dorpie in die bergstreek van Judea is 'n bewys daarvan, sy kom besoek die een persoon wat God voorberei het om haar te help – Elisabet.

Het jy vanjaar 'n "Elisabet" gehad om jou deur moeilike tye te help? Miskien was jy een. Indien jy beide was, sal jy weet hoe kosbaar vriendskap tussen Christene is. Of jy nou 'n jong Christen met meer vrae as antwoorde is, of iemand wat reeds vir baie jare 'n volgeling van Jesus is, wil ek jou aanmoedig om jou godvresende vriende en mentors op te soek. Die gawe van vriendskap is waarlik 'n skat wat ons moet koester.

Gebed: Here, U is vir altyd ons beste Vriend, ons Bron van berading, die eerste Persoon na wie ons gaan om hulp te vra. Dankie Vader vir die wonderlike gawe van Christen vriende en mentors wat ons help om op U te fokus. Leer my hoe om, soos Elisabet vir Maria gehelp het, ook 'n bemoediging vir my vriende te wees. Amen