Xanthe Hancox

In die tyd van koning Herodes van Judea was daar 'n priester met die naam Sagaria, uit die diensgroep van Abia. Ook sy vrou het van Aäron afgestam, en haar naam was Elisabet. Hulle was albei getrou aan die wet van God en het onberispelik al die gebooie en voorskrifte van die Here onderhou. Hulle het geen kind gehad nie, omdat Elisabet onvrugbaar was. Buitendien was albei reeds op ver gevorderde leeftyd.  Lukas 1:5-7.

Toe verskyn daar aan die regterkant van die wierookaltaar 'n engel van die Here aan hom. Sagaria het geskrik toe hy hom daar sien staan en hy het baie bang geword, maar die engel sê vir hom: “Moenie bang wees nie, Sagaria, want jou gebed is verhoor. Jou vrou, Elisabet, sal aan jou 'n seun skenk, en jy moet hom Johannes noem.  Lukas 1:11-13

Wat 'n jaar was 2016 nie. Droogte! Brexit! Staatskaping! "Fees must fall!" Trump! Die Springbokke! (Alhoewel ek dink dit is nog te gou om oor laasgenoemde te praat).

Tussen die veranderende politiese en ekonomiese landskap, beide in Suid-Afrika en in ander lande, asook worstelinge in my persoonlike lewe, dink ek dit is veilig om te sê dat 2016 was 'n ontwrigtende jaar vir my. En ek dink nie ek is alleen nie. Die voortdurende slegte nuus en die drama's van elke dag het my behoorlik laat steier.

As Christene moet ons egter onsself daaraan herinner dat niks wat gebeur het of nog gaan gebeur vir God 'n verrassing is nie. Die Kerstyd is 'n wonderlike geleentheid om 'n bietjie terug te staan en weer 'n keer vanuit ewigheidsperspektief na die wêreld te kyk.

Die volgende paar weke totdat Vers-'n-Dag vir die jaar sluit, gaan ons 'n bietjie stilstaan by daardie eerste Kersfees en die mense wat betrokke was. Sagaria is die eerste persoon by wie ons stilstaan.

Dinge was nie so rooskleurig vir hom nie. Hy en sy vrou, Elisabet, was kinderloos en reeds bejaard. 'n Stigma het aan kinderloosheid gekleef en hy sou dit as 'n skande ervaar het.

Vir die grootste deel van die jaar, behalwe wanneer Sagaria diens in die tempel moes doen, het Sagaria en Elisabet in 'n klein dorpie in die bergstreek van Judea gewoon.(Lukas 1:39). Hy was redelik obskuur en onbelangrik, ietwat van 'n plaasjapie. En dan het hulle boonop geleef in die tyd wat die tiran, Herodus die Grote, (37 tot 4 v.C.) geregeer het.

Sagaria kon maklik opgehou het om te bid, hy kon bitter geword het, en opgehou het om te werk vir die God wat nie kind aan hom geskenk het nie. Maar dit is nie hoe die verhaal van Sagaria eindig nie. Om deur 'n seun aan hom te skenk. Hierdie seun, Johannes die Doper, het die koms van Jesus aangekondig.

Gebed: Vader, vergewe my dat ek soms twyfel en moed verloor. Dankie dat die storie van Sagaria u getrouheid ook aan my bewys. Help ons om die verhaal van Sagaria te onthou wanneer ons in die versoeking kom om moed op te gee. Amen