Deur Benescke Janse van Rensburg

Navorsers by die Stirling Universiteit in Skotland het bevind dat stampe teen die kop met ’n sokkerbal soos wat algemeen in dié sport voorkom, geheueverlies van tussen 41% en 67% tot 24 uur na die tyd kan veroorsaak.

In ons lewens beleef ons deurbrake en wonderwerke van God. Ons dank Hom selfs daarvoor. Tog, wanneer die lewe ons ’n “stamp” gee in die vorm van ’n nuwe uitdaging (finansies, gesondheid, verhoudings, werksgewys), begin ons meteens soos die sokkerspelers aan “geheueverlies” lei. Ons fokus soveel op die uitdaging dat ons vergeet wat God in die verlede vir ons gedoen het.

God het besef dat ons mense maklik aan “geheueverlies” kan lei. Juis hierom het Hy die Israeliete keer op keer beveel om ná ’n deurbraak ’n altaar of monument op te rig. Buiten dat dit hulle herinner het aan wat Hy gedoen het, het dit verseker ook hulle geloof versterk wanneer ’n nuwe uitdaging voor hulle kom lê het.

In Eksodus 17 lees ons van die Israeliete se veldslag teen die Amalekiete. Moses moes sy arms in die lug hou vir die Israeliete om die veldslag te kon wen. Hulle het. In Eksodus 17:15 lees ons: “Moses het 'n altaar gebou en dit genoem: ‘Die Here gee my die oorwinning.’” Noag het ’n altaar gebou nadat hulle uit die ark op droë grond gestap het. Josua het ook ’n altaar gebou nadat hulle die beloofde land binnegegaan het. Gideon het ’n altaar gebou (Rigters 6:26-27). Ook Samuel (1 Sam 14:25), Saul (1 Sam 15:35), Dawid (2 Sam 24:18-19) en Elia (1 Konings 18:31-32). Elke keer is ’n altaar opgerig om die volk te herinner aan ’n wonderwerk wat God vir hulle gedoen het.

In Psalm 77:12,14 lees ons: “Ek dink aan wat die Here gedoen het, die wonderlike dinge wat U gedoen het, lank gelede. . . O God, U het gedoen wat net U kan doen. Daar is nie ’n ander God wat so groot is soos U nie, o God.”

Watter “stamp” het jy onlangs beleef? Lei jy aan “geheueverlies” of kyk jy terug en onthou van al die vorige deurbrake? Van die vorige finansiële deurbraak wat God vir jou bewerkstellig het; die verhoudings wat Hy bonatuurlik herstel het; die siekte waarvan Hy jou genees het of daardie deurbraak wat net Hy jou mee kon kom verras? Kom ons kyk verby die uitdaging en fokus weereens op God. Hy verander nooit nie. As die uitdaging kom, weet ons die antwoord sal ook. Sterkte.

Vader God, baie dankie vir elke deurbraak en wonderwerk wat ek in my lewe al uit U hande beleef het. Help my om weg te kyk van my uitdaging (noem dit) en eerder my oë op U te vestig. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

Opdrag vir die dag: Kry ’n pen en papier en maak ’n lys van deurbrake of wonderwerke wat jy en jou familie al beleef het. Wanneer jy weer ’n “stamp” kry, kan jy gerus die lys uithaal en jouself herinner aan wie God is. Hy verander nooit nie.

Terugvoer: Vir terugvoer oor die reeks of as jy jou getuienis wil deel van iets wat God in jou lewe gedoen het, stuur gerus vir my ’n epos na This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.. Dit is altyd lekker om van lesers te hoor. Benescke