Deur Benescke Janse van Rensburg

Die “Brug na nêrens” is een van die bekendste bakens wat motoriste sien wanneer hul via die N1-snelweg die Kaapstad middestad nader. Bouwerk aan dié onvoltooide pad wat hoog in die lug op pilare staan, is in die 1940’s begin om verkeer in die middestad te verlig. Die bouprojek is egter in die 1970’s weens ’n geldtekort gestaak. Sedertdien staan die onvoltooide brug net so.

’n Halfeeu later, met die viering van Kaapstad as Wêreldontwerphoofstad, het die stadsraad in Kaapstad besluit om die publiek te nooi om idees in te dien oor wat moontlik met dié brug moet gebeur. Indien hulle van een van die idees hou sal hulle oorweeg om dit te implementeer.

In ons lewens moet ons ook soms besluite neem wat ons met vrees vul omdat ons bang is dat ons nie die regte besluit neem nie. Vrees veroorsaak dat ons passief raak en selfs ons visie begin verloor. As ons dit nie betyds aanspreek nie, word ons lewens soos die “brug na nêrens”. Ons begin stagneer.

Wat is die besluit wat jy vandag moet neem? Trou of die verhouding verbreek? Trek of bly? In jou huidige posisie by die werk bly of aansoek doen om ’n ander werk? Met ’n gesin begin of dalk geen kinders hê nie?

God ken ons elkeen se toekoms. Hy kan ons dus help om met wysheid besluite te neem. In Jakobus 1:5 lees ons: “As een van julle wysheid kortkom, moet hy dit van God bid, en Hy sal dit aan hom gee, want God gee aan almal sonder voorbehoud en sonder verwyt.” Ook inJesaja 30:21 lees ons: “Wanneer jy die regte koers verlaat, sal jy agter jou 'n stem hoor sê: “Hier is die pad, loop hierlangs.” En in Spreuke 16:9 staan geskryf: “’n Mens beplan sy pad, maar die Here bepaal hoe hy loop.” Hy is egter ook genadig om ons te help sou ons wel verkeerde besluit neem om weer op die regte pad te kom. Ons moet egter net begin om besluite te neem anders stagneer ons.

Is dit maklik om ’n stap van geloof te neem en ’n besluit te neem? Meestal nie. Tog, omdat God ons lei, kan ons die stem van die Heilige Gees vertrou omdat dit mettertyd sal sin maak. Waarheen is jou brug op pad? Ek weet nie, maar Hy weet. Kom ons los die vrees en vertrou Hom. Sterkte.

Vader God, baie dankie dat U weet in watter rigting ek moet stap. Help my asseblief om my oë gevestig te hou op U en te luister as U my lei. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

Opdrag vir die dag: Indien jy weer ’n besluit moet neem, skryf die voordele en nadele van elke opsie neer. Oorweeg dit. Bid daaroor en vertrou die vrede in jou hart. Dit is baiekeer die rigtingaanwyser.

Terugvoer: Vir terugvoer oor die reeks of as jy jou getuienis wil deel van iets wat God in jou lewe gedoen het, stuur gerus vir my ’n epos na This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.. Dit is altyd lekker om van lesers te hoor. Benescke