Xanthe Hancox

Hy het self ons sondes in sy liggaam aan die kruis gedra. Daardeur is ons vir die sondes dood en kan ons lewe in gehoorsaamheid aan die wil van God. 1 Petrus 2:24a

Christus het ons losgekoop van die vloek wat die wet meebring, deur in ons plek 'n vervloekte te word. Daar staan naamlik geskrywe: “Vervloek is elkeen wat aan 'n hout opgehang is.” Daardeur kan ook hulle wat nie Jode is nie, deur Christus Jesus deel kry aan die seën wat God aan Abraham toegesê het. So het ons dan deur die geloof die Gees ontvang wat God beloof het.  Galasiërs 3:13-14

Daar is 'n legende wat lui dat hout van die kornoelieboom gebruik is vir Jesus se kruis. Dit lui verder dat met sy dood het Christus die blomme van hierdie boom so verander dat dit ons aan sy lyding sal herinner: twee lang en twee korter kroonblare met iets wat soos spykermerke lyk op die kroonblare. Dit is 'n mooi storie, maar die waarheid is dat daar geen bybelse of botaniese bewyse hiervoor is nie. Ons weet nie watter soort boom gebruik is nie, en dit maak nie saak nie.

Wat wel saak maak is dat deur sy dood aan die kruis, Jesus ons losgekoop het van die vloek van die wet. Deurdat Hy die volmaakte offerhande geword het, hoef ons nie meer die straf vir die sonde – die dood – te betaal nie. Die kruis was die plek waar Jesus ons sondes gedra het en deur sy lyding die dood oorwin het, sodat Hy 'n nuwe lewe kan gee aan 'n wêreld vol sonde en dood (Openbaring 22:14). 

Christus het vir ons aan die houtkruis gesterf en deur sy dood en opstanding is dit vir ons moontlik om 'n lewende verhouding met God te hê. Ons almal het Jesus nodig om ons van ons oortredings te reinig. Ons het Hom nodig om ons gebrokenheid te herstel. Ons het H0m elke dag nodig om ons te lei.

Gebed: O Here van die Skepping, ons dank U vir u Seun, wat die hoogste offer aan die houtkruis vir ons verlossing gebring het. Amen.