Wanneer geregtigheid nie geskied nie en misdaad ongestraf bly en dit lyk asof die kwaad floreer, verloor mense dikwels hulle respek vir die wet.

Omdat die verkeerde daad nie meteens gestraf word nie, hou mense eenvoudig aan om verkeerd te doen.  Prediker 8:11

Tog is dit nodig dat ons as gelowiges steeds op God moet vertrou.

Al doen die sondaar ook hoeveel kwaad en leef hy nogtans lank, … met die vromes wat vir God dien, sal dit goed gaan; met die goddelose wat nie vir God dien nie, sal dit nie goed gaan nie. Soos 'n vlugtige skaduwee wat gou verdwyn, sal die goddelose nie lank lewe nie. Prediker 8:12-13

U laat hulle op gladde plekke loop, U laat hulle ondergaan deur hulle eie geknoei. Psalm 73:18

As gelowiges word ons nie geroep om soos die wêreld te wees nie, maar om die wêreld 'n beter manier van leef te wys. Laat God jou regter wees.

Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is.  Romeine 12:2

Verder, broers, alles wat waar is, alles wat edel is, alles wat reg is, alles wat rein is, alles wat mooi is, alles wat prysenswaardig is – watter deug of lofwaardige saak daar ook mag wees – daarop moet julle julle gedagtes rig. En wat julle van my geleer en ontvang het, en gehoor en gesien het, dit moet julle doen. En God wat vrede gee, sal by julle wees. Filippense 4:8-9

Gebed: Here Jesus, gee dat ek nie aan die wêreld gelyk word nie, en dat u Gees my sal help om u wil te onderskei en om te doen wat U my geleer het. Amen

Wanneer misdaad en korrupsie jou onderkry kan gratis afgelaai word van ons webwerf www.bybelgenootskap.co.za. Klik op Bybelhulpmiddels en laai dit af in n pdf-, epub-, mobi- of MP3-formaat.