Baie van ons skram tans weg van die nuusgebeure in die wêreld en in ons land. 'n Mens wil amper nie meer die koerant lees of na die nuusbulletins luister nie, want elke dag is daar net meer berigte oor misdaad en korrupsie.

Die volgende twee dae gaan ons ontdek wat God se Woord ons hieroor leer.

Eerstens moenie moed verloor nie. Oneerlikheid en korrupsie is niks nuuts nie. In die Ou Testament vind ons talle Bybelgedeeltes waar God sy misnoeë met oneerlikheid en korrupsie te kenne gee, terwyl die Spreukedigter sy afkeer van leuenaars en skelms duidelik uitspreek.

“Jy mag nie met inhoudsmate werk wat nou sus dan so, nou groot dan klein is nie. “Jy moet billik en regverdig afweeg en afmeet. Dan sal jy lank leef in die land wat deur die Here jou God aan jou gegee word. “Die Here jou God het 'n afsku van almal wat oneerlik is en ander bedrieg.”  Deuteronomium 25:14-16

Die Here het 'n afsku van 'n skaal wat nie reg weeg nie; net die regte gewig dra sy goedkeuring weg. Die opregtheid van eerlike mense bepaal hulle koers; die valsheid van onbetroubares bring hulle ondergang. Rykdom baat nie wanneer die Here straf nie;  … Spreuke 11:1,3-4a

Die Bybel leer ons verder dat eerlikheid God se seën verdien. In Spreuke word eerlikheid en die manier waarop jy sake doen, gekoppel aan 'n sinvolle lewe.

Die gehoorsaamheid van die opregte maak sy pad gelyk; wie verkeerd doen, kom daardeur tot 'n val.  Spreuke 11:5

Gebed: Here Jesus, help my om vandag in alles wat ek doen eerlik te wees sodat u Naam daardeur verheerlik kan word. Amen