Louise Gevers

Wat ek bedoel, is dít: Laat julle lewe steeds deur die Gees van God beheers word, dan sal julle nooit swig voor begeertes van julle sondige natuur nie. Wat ons sondige natuur begeer, is in stryd met wat die Gees wil, en wat die Gees wil, is in stryd met wat ons sondige natuur begeer. Hierdie twee staan lynreg teenoor mekaar, en daarom kan julle nie doen wat julle graag wil nie.  Galasiers5:16-17

Christenskap is nie vir sissies nie. Christene word opgeroep om nie "aan hierdie sondige wêreld gelyk [te] word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe." (Romeine 12:2) Dit is 'n groot uitdaging en Christene moet daadwerklik kies om in die Gees te wandel, om nederig, onderdanig, en liefdevol te leef, vol genade en geregtigheid en om die sonde uit te roei as hulle werklik deur Christus vergewe is en in 'n verhouding met God is. Ons doen dit want "God is lig, en daar is geen duisternis in Hom nie. As ons beweer dat ons aan Hom deel het, en ons lewe in die duisternis, lieg ons en handel ons nie volgens die waarheid nie. Maar as ons in die lig lewe soos Hy in die lig is, het ons met mekaar deel aan dieselfde gemeenskap en reinig die bloed van Jesus, sy Seun, ons van elke sonde." (1 Johannes 1:5-7)

Ons leef in 'n wêreld vol haat, hartseer, oorloë, ongeduld, wreedheid, boosheid, verraad, ongevoeligheid en selfverheerliking – alles dinge wat reëlreg staan teenoor en in konflik is met die karaktereienskappe en die vrug van die Gees. Ons as Christene is in 'n konstante stryd met ons sondige natuur terwyl ons probeer om die liefde van Jesus in ons harte onder leiding van die Heilige Gees uit te leef en die Woord van God te gehoorsaam. Selfs Paulus het hierdie spanning in homself aangevoel soos blyk uit sy woorde: "Ek weet immers dat die goeie nie in my woon nie, nie in my sondige aard nie. Daar is by my wel die wil om die goeie te doen, maar ek doen dit nie. Die goeie wat ek wil doen, doen ek nie, maar die slegte wat ek nie wil doen nie, dit doen ek." (Romeine 7:18-19)

Kan jy jou hiermee vereenselwig? Ons ontdek die vreugde van die Gees in ons lewens wanneer Hy ons in staat stel om eerlik na ons situasie te kyk en daardeur in ons geestelike lewe te groei. Die oorwinning van om deur die Gees beheers te word lê daarin dat Hy ons in staat stel om 'n dinamiese verhouding met God die Vader deur Jesus Christus die Seun te hê; nie omdat ons volmaak is nie, maar omdat ons vergewe is en ons aan Hom onderwerp.

Deur sy werking in ons begin ons verandering in ons natuurlike self sien. Van die oomblik dat ons ons swakheid en ons behoefte aan die Heilige Gees in gebed erken, verwelkom ons die teenwoordigheid van die Gees in ons lewens. Hy inspireer ons om tyd met God deur te bring wat ons help om in ons geestelike lewe te groei. Dit word vir ons belangrik dat God ons planne goedkeur; ons raak meer gewillig om Hom toe te laat om ons begeertes te verander. Soos Hy ons gebede beantwoord, ervaar ons die blydskap om volgens sy wil te bid.

Die belangrikste is egter dat dit ons verhouding met Hom versterk en dit veroorsaak dat ons naby Hom wil bly; ons erken daardie verkeerde dinge wat ons in versoeking lei of 'n houvas op ons het. Die Gees gee ons die krag om reg bo verkeerd te kies, liefde eerder as haat, genade eerder as om te veroordeel en Hy beloon ons met die oorvloedige lewe waarvoor Jesus gesterf het.

Gebed: Vader, help my om in u Gees te wandel sodat ek gehoorsaam aan U kan wees en in liefde sal kies om die goeie tot u eer te doen. In Jesus se Naam bid ek dit, Amen