Louise Gevers

Die vrug van die Gees, daarteenoor, is liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing. Teen sulke dinge het die wet niks nie.  Galasiërs 5:22-23

Vrugte is begeerlik. Indien jy geseënd genoeg is om 'n vrugteboom in jou tuin te hê, sal jy weet hoe lekker dit is om die klein groen vruggies dop te hou en te sien hoe hulle oor 'n tydperk tot vol ryp vrugte groei en om van die lekker om daardie ryp, sappige vrugte te eet, nie eers te praat nie. Soms inspireer sulke bekoorlike vrugte kunstenaars om dit te skilder, terwyl sommige van ons dit net waardeer om dit te eet nadat ons dae lank moes wag vir die vrugte om ryp te word!

Maar wat van die vrugte van die Heilige Gees? Vir die Christen is die vrug van die Gees selfs meer aanloklik en bevredigend as die vrugte waarna ons in die vorige paragraaf verwys. Die vrug van die Gees groei slegs in diegene wat Jesus as Here en Verlosser ken want die Gees werk in hulle. Enigeen kan vrugte van 'n boom pluk of dit in 'n winkel koop, maar ons kan nie self die vrugte van die Gees kweek nie.

Liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing is almal karaktereienskappe van Jesus en Hy bring dit ook in ons te voorskyn. Jesus het vir sy dissipels gesê: "Ek gee julle 'n nuwe gebod: julle moet mekaar liefhê. Soos Ek julle liefhet, moet julle mekaar ook liefhê. As julle mekaar liefhet, sal almal weet dat julle dissipels van My is.” (Johannes 13:34-35) Dit is onbeskryflik kosbaar, want ons wil graag herken word as Jesus se volgelinge, want Hy het ons sondes weggeneem en ons met sy geregtigheid geklee. Dit is egter nie maklik nie. Jakobus daag ons uit met die woorde:  "'n Vyeboom, my broers, kan tog nie olywe dra nie, of 'n druiwestok vye nie. 'n Brak fontein kan mos nie vars water gee nie!"(Jakobus 3:12)

Dit is bemoedigend wanneer ons, en ander, kan sien hoe die goeie kwaliteite in ons groei, maar net soos natuurlike vrugte tyd neem om te groei, is die vrug van die Heilige Gees nie iets wat oornag verskyn nie. Ons moet nie mismoedig word as dit aanvanklik tyd neem om in ons te verskyn nie.

Jesus sê: “As julle sê 'n boom is goed, moet julle ook sê sy vrugte is goed; en as julle sê hy is sleg, moet julle ook sê sy vrugte is sleg. 'n Boom word tog aan sy vrugte geken. (Matteus 12:33) Hieruit leer ons dat, as ware volgelinge van Christus, die vrugte wat ons dra Hom moet weerspieël, en as ons begin om al hoe meer die duiwel te reflekteer, is dit tyd om onsself te herevalueer. Dit is moontlik om oorgerus en selfvoldaan te raak en nie te besef dat ons besig is om in ons geloof te val nie, of ons neem die eer wat God toekom vir onsself en valse trots neem beheer. Alhoewel ons van die krag van sonde bevry is, beskik ons steeds oor die vermoë om te sondig en moet ons dit voor God bely sodra ons besef dat ons geval het sodat ons weer deur Jesus in 'n verhouding met God kan wees en die Gees ons kan lei.

"Maar as ons ons sondes bely – Hy is getrou en regverdig, Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid." (1 Johannes 1:9)

Gebed:  Here, gee dat die vrug van die Heilige Gees oorvloedig in my sal groei. Amen