Neville Turley

As julle ander mense hulle oortredings vergewe, sal julle hemelse Vader julle ook vergewe. Matteus 6:14

Om werklik jammer te wees oor dit wat jy verkeerd gedoen het en om te vra om vergewe te word, verg 'n spesiale soort moed. Om die inisiatief te neem en iemand wat iets verkeerd teen jou gedoen het te vergewe, is selfs moeiliker.

Die apostel Petrus het op 'n keer by Jesus raad gesoek oor vergifnis. “Here, hoeveel keer moet ek my broer vergewe as hy iets verkeerds teen my doen? Selfs sewe keer?” Jesus antwoord hom: “Ek sê vir jou, nie sewe keer nie maar selfs sewentig maal sewe keer." (Matteus 18:21-22)

Petrus se vraag is een waarmee baie van ons dikwels worstel. Die Bybel is egter onversetlik oor die belangrikheid van die regte verhouding met God en met mekaar.

Ons teks bevat die belofte: " … sal julle hemelse Vader julle ook vergewe." Dit maak nie saak hoe erg 'n mens gesondig het nie, God is gewillig om ons te vergewe.

In die eerste brief van Johannes lees ons: "Maar as ons ons sondes bely – Hy is getrou en regverdig, Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid." (1 Johannes 1:9)

Die eerste stap wanneer ons vergifnis soek omdat ons iets verkeerd gedoen het, is om te bid en die Here te vra om ons te vergewe. Jesus het ons geleer hoe om dit te doen: "en vergeef ons ons oortredings soos ons ook dié vergewe wat teen ons oortree;" (Matteus 6:12) En dan moet ons na die persoon teen wie ons verkeerd opgetree het gaan en probeer om die verhouding te herstel.

Die instruksie wat vandag se belofte voorafgaan is van toepassing wanneer iemand anders verkeerd teenoor jou opgetree het. Dit is nie maklik om te vergewe nie, maar niks sal jou meer benadeel as om 'n wrok te koester nie.

Om te vergewe, maar nie te vergeet nie, is nie 'n opsie nie. Ons moet ander heeltemal vergewe voordat ons vergewe kan word.

Om te leer hoe om te vergewe, hoef ons net na die lewe van Jesus Christus te kyk. Daar aan die kruis terwyl Hy ter wille van jou en my sondes in folterende pyn verkeer, bid Hy: “Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie!” (Lukas 23:34)

God vergewe ons sondes en Hy roep ons om dieselfde met ander te doen.

Gebed: Here, gee dat u Heilige Gees 'n gees van vergifnis in ons sal werk sodat ons 'n voorbeeld vir ander kan wees.  In Jesus se Naam bid ons dit. Amen