Neville Turley

Laat ons dan nie moeg word om goed te doen nie, want as ons nie verslap nie, sal ons op die bestemde tyd ook die oes insamel.  Galasiërs 6:9

Ons is almal op een of ander manier saaiers. Elke dag, deur ons woorde en dade saai ons die saad van vriendelikheid of onvriendelikheid. Ons saai saadjies wat iemand laat glimlag en hom gelukkig maak of saadjies wat trane en wanhoop veroorsaak. Ons woorde en ons dade het 'n invloed op ander, of ten goede of ten kwade.

Die eerste gelykenis wat Jesus volgens Matteus vertel het, is die gelykenis van die saaier wat uitgegaan het om te saai. 'n Deel van sy saad het op die pad geval, sommige op die klipbanke en tussen die onkruid en 'n deel het in die goeie grond geval. Slegs die saad wat in die goeie grond geval het, het 'n oes gelewer. (Matteus 13:3-8)

Die dissipels het Hom toe gevra hoekom Hy met die skare in gelykenisse praat. Jesus het toe verduidelik dat aan hulle is gegee om die geheime van die koninkryk van die hemel te ken, maar aan diegene vir wie dit nie gegee is nie, verduidelik Hy dit in gelykenisse.

Toe het Jesus die betekenis van die gelykenis van die saaier verduidelik. (Matteus 13:18-29) Hy het die saad wat gesaai is, met die woord van God vergelyk. (Lukas 8:11)

As medewerkers met Christus is elke Christen 'n saaier. Deur ons woorde en dade saai ons die woord van God. Met tye sal ons diep teleurgesteld wees want nie al die saad wat ons saai word goed ontvang nie. Ons kan soms 'n klap in die gesig of verwerping verwag, maar ons moet volhard.

Ons mag miskien nooit in ons tyd hier op aarde die resultaat sien van die saad wat ons saai nie, maar eendag sal ons dit wel sien.

"Ek het geplant, Apollos het natgegooi, maar dit is God wat laat groei het," skryf Paulus. (1 Korintiërs 3:6) Paulus en Apollos het hulle taak voltooi. Nou is dit ons beurt om hande te vat en in God se oesland te plant.

Kom ons doen dit in die geloof. Daar is werk om te doen.

Gebed: Hemelse Vader, gee dat ons deur u Heilige Gees die saad van u woord sal plant. In die Naam van u Seun, Jesus Christus. Amen