Neville Turley

Ek sal jou 'n groot nasie maak, Ek sal jou seën en jou 'n man van groot betekenis maak, en jy moet tot 'n seën wees.  Genesis 12:2

God se roeping bevat die grootste belofte, Abram, jy, ek en alle mense sal deur Hom geseën word.

O, om die geloof van 'n Abram te hê en God se wil vir ons lewens te aanvaar. Abram op die ouderdom van 75 was gewillig om uit sy gemaksone te tree, sy land en sy mense te verlaat en in gehoorsaamheid aan God se roeping die onbekende te betree. Wanneer ons op God se roeping antwoord, beloon Hy ons bo ons verdienste, alhoewel daardie beloning miskien nie onmiddellik sal plaasvind nie. God het sy eie tydtafel. Abram was 99 voordat God sy verbond met hom bevestig het en hom Abraham genoem het. (Genesis 17:5-7)

Dit het God se volk baie geslagte geneem om die implikasie van sy belofte aan Abraham vir hulle eie lewens te verstaan. Matteus, bevestig die goeie nuus in sy Evangelie. Jesus was die langverwagte, beloofde Messias.

Matteus doen dit deur 'n deeglike uiteensetting in die eerste hoofstuk van Jesus se geslagsregister. In die heel eerste vers lees ons: "Die geslagsregister van Jesus Christus, die Seun van Dawid, die seun van Abraham."

Paulus maak dit baie duidelik dat God se belofte aan Abraham vir beide Jode en nie-Jode geld. "En as julle aan Christus behoort, is julle ook nakomelinge van Abraham en erfgename kragtens die belofte van God." (Galasiërs 3:29)

Abraham se lewe is 'n spieëlbeeld van wat ons lewens behoort te wees. Deur die Heilige Gees is ons ook deur God geroep ‑ “Glo in die Here Jesus,"‑ en dan die belofte – "en jy sal gered word …" (Handelinge 16:31)

In antwoord op daardie roeping, moet ons God eerste stel in ons lewens. Mag die Here ons help om dit te kan doen.

Gebed: Almagtige Vader, dankie dat selfs voordat ek in die skoot van my moeder gevorm is, het U reeds beloof om deur ons Here Jesus Christus my uit die duisternis na u koninkryk van lig te roep. Help my om U tot die einde te dien. Amen